FOTO: Twitter /  @SouthAfricanRugby

FOTO: Twitter / @SouthAfricanRugby

Het jy gehoor?

Die SARIE-span onthou die 1995-eindstryd

Die redaksie van SARIE onthou die gebeure van dié dag in 1995 wat ons as nasie nooit sal vergeet nie

Michélle van Breda – SARIE-redakteur

Ek kan skaars glo dis 20 jaar gelede! Toe ek vanoggend die Wêreldbeker-temalied, World in Union deur PJ Powers, oor die radio hoor, was my trane maar vlak. Dit was só ’n groot oomblik vir SA, daar was soveel verwagtinge van ons as ’n jong nasie, soveel geloof in ons as ’n rainbow nation. Nou’s ons 20 jaar verder, van ons drome lê aan skerwe, maar ons kan nooit toelaat dat ons minder van onsself verwag om van SA die land en nasie te maak wat dit moet, en ons kan, nie.

Hierdie uittreksel kom uit Michélle se redakteursbrief in die Mei 2009-uitgawe van SARIE.

Dit het nou al ’n paar keer gebeur dat ek met gebeurtenisse van geskiedkundige belang, of wat my emosioneel na aan die hart lê, buite die land was. Ná al die jare voel ek steeds die leemte, want niks kan opmaak vir die hier wees nie.

1995 was Wêreldbekerrugby-jaar vir Suid-Afrika. Een wat ons nooit sal vergeet nie. Ná lang jare van isolasie was ons ywerig om die wêreld te wys dat ons nog onder die bestes tel. Maar waar sou ek my bevind? In die middel van die Namib-woestyn!

Ek was gebroke, in twee geskeur, want om foto’s te neem vir ’n SARIE-bylae by Sossusvlei in die Namib, een van die mooiste plekke op die planeet, was ’n voorreg. Maar my hart was by die huis. By die rugby. Met ’n swaar gemoed het ek op die Cessna Namibië toe geklim. Toe, heel toevallig, hoor ons van iemand met ’n klein skotteltjie op sy dak. Ons sou daar die wedstryd kon kyk. Ek onthou daardie Saterdag – hitte by die 40 grade en ’n woestynwind wat wolke sand opswiep. Ons wat sit op die vloer voor die TV, alte bewus van die druk op die span en die verwagtinge van ’n hele nasie. Ellispark was stampvol en tussen swaaiende landsvlae deur het ek my familie en vriende in die skare gesoek. Toe die SAL se Boeing laag soos ’n arend oor die stadion sweef, het die skare ontplof en ek was hoendervleis. Hier was iets aan ’t gebeur – ons kon dit aanvoel duisende kilometers van die huis.

Die Bokke se oorwinning het die vreugdevure hoog laat brand. Jare se swaarkry was meteens vergete. Ons was die wêreldkampioen en skielik was alles moontlik.
En ek by Sossusvlei? Hoe voel jy as jou land, wat só lank die muishond van die wêreld was, oorwin? As ’n span ’n nasie se droom bewaarheid? En ons geliefde Madiba in ons kaptein se no. 6-trui op die veld verskyn. Jy huil skaamteloos. Trane van dankbaarheid en trane van hoop. En toe hol ons soos kinders in daardie duine met die fynrooi sand rond. Van suiwer vreugde.

Emtia Morrison – Handelsmerkbestuurder

Ek onthou dit soos gister. Ek was in standerd 5 en het kruisbeen op die mat gesit voor my pa. Ek het in ’n stadium gedink my pa sowel as sy vriend kry ’n hartaaanval. Toe die eerste eindfluitjie blaas (voor ekstra tyd), was dit so stil in ons woonbuurt jy kon letterlik ’n speld hoor val.

Toe Joel daai skop oorsit het ek net aanhoudend gevra “wen ons nou? wen ons nou?” en almal het só geskreeu, niemand het my geantwoord nie! Uit die aard van die saak het ek toe besef dis ’n wen … Ek onthou hoe ek diep binne my geweet het alles gaan OK wees toe Madiba met die nommer-6-trui op die veld gestap het. Ons het gebraai en Leon Schuster se CD geluister en ek het op my Western Flyer-fiets om die draai na ’n vriendin gery. Ek het al die pad my fiets se geroeste klokkie gelui. Ons het mekaar so hard ge-high five, my hand het vir dae daarna nog gebrand.

Herman Lensing – SARIE Kosredakteur

Ek was in Sub B. Dit was winter in Upington en baie koud. En my ouers het pas vrede gemaak dat 1994 nie die einde van ons bestaan in SA gaan wees nie!

Dit was ’n wonderlike gevoel. Hoewel ek steeds niks van rugby weet of verstaan nie, was daardie dag die eerste keer dat ek geweet het ons kan saam as een volk opgewonde raak oor iets: my pa het so hard geskree en die tuinier omhels!

Almal was trots SA! Dit is een van die oomblikke wat ek wens ek kon bottel. Natuurlik het ons ook BAIEEEEEEE geëet.

Rugby het daai dag vir my sy betekenis in ons kultuur gewys: dit bring mense saam!

Marguerite van Wyk – Senior joernalis

Ek was by pals in Johannesburg. My kennis van rugby is beperk, maar daai dag was ek vasgenael voor die televisie. Ek sal nooit vergeet dat Madiba die Springboktrui aangetrek het nie. Dit het ’n mengsel van trots, huilerigheid en veel veel meer as respek gelaat. Ek het geweet toe ons wen was dit een van daai oomblikke soos toe hy vrygelaat is of toe jy ware liefde tref. Oorweldigend. En toe Francois Pienaar die beker omhoog hou, het ons geskree. Sommer deurmekaar. Ons was deel van groot geskiedenis.

Dit was net so so lekker om ’n Suid-Afrikaner te wees. Ek het gevoel soos op skool met skolesport as “ons span’’ gewen het.

Anine Capraro – Teksredakteur

Ek was in Londen in (toe nog) Naspers-koerante se woonstel, saam met my gesin. My man, Ingo, was destyds vir drie jaar die koerante se korrespondent in Londen en Europa. Ons was die dag van die wedstryd al meer as twee jaar in die vreemde en verlang erg huis toe. Die opwinding van daardie wedstryd, en die euforie toe Nelson Mandela die beker aan Francois Pienaar oorhandig, versinnebeeld vandag nog vir my ons liefde vir SA en die trots op wat die land al alles vermag het, against all odds. Veral die kinderlike vreugde van my seun, Martin (toe 8), en sy op-en-af gespring en gejuig op die ou rusbank, sal my altyd bybly. Hy was later meer uitasem as die Springbokke op die veld! Daar in die vreemde het ek besef hoe belangrik en hoe diep die gevoel van behoort ingewortel is. Hopelik gaan my kleinkinders ook nog eendag dié soort euforie kan beleef oor iets goeds wat in SA gebeur.

Lucelle Hough – Digitale redakteur

Ek was 8 jaar oud, maar kan dié dag baie goed onthou. Ons leefkamer was vol mense, harde stemme, die bakkies vol biltong en Simba-tjips! Ek dink nie ek het regtig toe begryp wat dié eindstryd vir SA beteken nie, maar ek kan onthou ek het besef dís groter as net rugby.

Willem Koen – Reproduksie

Ek het oortyd gewerk … toe huis toe gejaag. Ek dink ek was nog op die pad toe die eerste drie gedruk is.

Die mense het mal gegaan op die paaie, en toe te veel bier gedrink.

Maresa Pretorius – Ontwerper

Ek was in Zimbabwe van alle plekke. Dit was so twee dae ná my 12de verjaardag en ek was saam met my familie en ander op ’n SKJA-uitreik in Suidelike Afrika (Zimbabwe/Mosambiek/Malawi).

Ons het daardie dag in Zim aangekom (ek kan nie heeltemal onthou watter dorp nie) en ek onthou ons het met mening ’n bar of ’n plek gesoek waar ons almal die rugby kon kyk. Ons het darem ‘n kroeg gevind wat dit uitgesaai het – en gelukkig mag ons hele toergroep toe ingaan om te kyk.

Dit was rêrig ’n spesiale dag. Om met mede-Afrikane te sit en rugby kyk. En hulle was só vriendelik en hulle het net so hard soos ons gecheer.

Total African experience!

Madge Booth – Digitale Inhoudsbestuurder

Ek was nege, en onthou nou nog die ongelooflike spanning tydens die wedstryd en toe die absolute verligting en vreugde daarna. Dit het gevoel of die trots deur my hart gaan bars! Ek het in die personeeldorp op Skukuza gewoon en almal in dié klein dorpie was buite in die strate. Mense het toeters geblaas, mekaar omhels en Leon Schuster se Hier kom die Bokke kliphard gespeel.

Ek kry nou nog hoendervleis as ek daaraan dink, en hoe daardie oomblik só baie vir ons land en haar mense beteken het.

Anita Grindlay-Whieldon – Kantoorbestuurder

Ons het die wedstryd by die huis op televisie gekyk, maar toe die eindfluitjie blaas het ons buitentoe gehardloop om die ongelooflike atmosfeer te deel.  Almal het toeters gedruk en gegil en ons het almal een gevoel.

Carmen Botma – Bemarkingsassistent

Ek was byna 5 jaar oud in 1995, maar ek onthou wel die Wêreldbeker-speelgoed wat ons gehad het: ’n teddiebeer met ’n serpie om sy nek en ’n SA-vlag op sy maag. My sussie is ’n paar dae daarna gebore, so ek onthou al die opgewondenheid en hoe gretig almal was om vir haar SA klere te koop.

My pa het my toe al baie van Francois Pienaar vertel – hy’s tot vandag toe een van my gunsteling-Suid-Afrikaners en helde.

Monica Pienaar – Skoonheidsassistent

Ek was daai dag nog nie eens vyf jaar oud nie. Hoewel ek baie klein was en nie werklik besef het wat aangaan nie, onthou ek dat dit alles baie opwindend was omdat die grootmense om my gejuig en geskree het. Die Suid-Afrikaanse vlag was ook heeldag op my wang geverf en ek het die aand geweier om dit af te was. Dit was ’n groot gesukkel om uiteindelik die wang skoon te kry.