leonschoeman
Het jy gehoor?

Leon Schoeman – die stem agter kykNET se temalied

Al gewonder hoe lyk die stem agter kykNET se nuwe temalied? Sy naam is Leon Schoeman en hy was ook medeskrywer van die lied saam met Lize Beekman en Harold Schenk.

Leon is ‘n besige man met sy eie TV-ontwerp- en produksiemaatskappy. Hy en sy span spog met meer as 20 nasionale en internasionale toekennings, onder meer ‘n gesogte Promax-toekenning wat hulle in New York voor groot Amerikaanse TV-netwerke weggeraap het. Dit was vir die werk wat hulle vir die musiekkanaal MK gedoen het.

Daar eindig dit ook nie: Leon het Maandagaand sy solo-debuutalbum, Judas en die joker, by die Barnyard-teater in Willowbridge, Kaapstad, bekendgestel. Dis vol nostalgie en die bittersoet van die lewe. Groot name soos Anton Goosen, Koos Kombuis, Lize Beekman en Coenie de Villiers het saam met hom aan die liedjies geskryf.

Hier’s ‘n stukkie uit ”Kersfees en verjaardae”:

lank gelede toe die wêreld nog
in ‘n agterplaas en ‘n boomhuis pas
het ‘n cowboy laaitie met sy propgeweer
op ‘n stokperd die wêreld regeer

vrydae was hy superman
by die drive-inn agter in ‘n stasiewa
met sy blou pajamas en pantoffels aan
het hy vreesloos sy man gestaan

ek mis daai dae vandag
toe kersfees en verjaardae
die grootste dinge in ons lewe was
ek mis daai dae vandag

Leon se eie gunsteling is ”Judas en die joker”. ”Dit gaan oor die gevoelens as iemand op jou gecheat of jou verraai het, of jou beste buddy het jou in die rug gesteek. En als is vasgevang in daai laaste omkyk . . .” het hy by die bekendstelling verduidelik.

die vroeg oggend
breek weer
en val hier bo oor my
dis vreemd hoe dit altyd
weet waar om my te kry
en die skerwe in my hand
jou leë beloftes van gisteraand

”Vir elkeen wat Afrikaans is, familie of vriende in die buiteland het of self daar woon, vir elkeen wat die onskuldige jare van speel in ‘n voortuin sonder heinings kan onthou en lief is vir ons amazing land en sy mense – dié album is vir julle,” sê Leon.

  • http://www.p4life.co.za Coenie van Niekerk
  • Lorraine Smith

    Die beste le nog voor. Het Sondag by The Bay Family Church gehoor hoe sy nuwe gospel CD gaan klink. Maak julle gordels vas…… julle gaan ‘n draai in die hemel (op aarde) maak. Platinum hier kom Leon Schoeman!!!