prins_william_en_kate
Het jy gehoor?

Die storie van twee Prinsesse: Kate en Charlene


Op 2 Julie trou SA se eie Charlene Wittstock met prins Albert van Monaco.

Daar is mense wat meen sy het meer grasie en styl as Kate Middleton. Sy lyk selfs meer koninklik as haar skoonsusters, prinses Caroline en prinses Stephanie!

Hoewel Monaco se prinsdom waarskynlik minder eise aan Charlene gaan stel as die Britse koninkryk aan Kate, is daar heelwat ooreenkomste tussen die twee nuwe prinsesse.

Albei moes lank wag voordat hul prins die ja-woord gevra het. Kate het later die bynaam Waity Katie gekry en in 2009 het die Duitse tydskrif Bunte-paparazzi aangehaal wat sê Charlene het “’n Diana-blik” – eensaam en uitgewerp.

Dis egter nou alles vergete, want prins Albert het seker gemaak niemand kan die peervormige verloofring van sowat R700 000 aan Charlene se vinger miskyk nie.

Nes Kate gaan Charlene ook nie ‘n eenvoudige trourok kan dra nie, sê Gert van de Merwe, mode-ontwerper van Pretoria wat ook ‘n ateljee in Londen het.

Sy en Albert trou in die Pienk Paleis se binnehof en die rok sal tot sy reg moet kom wanneer sy by die marmertrappe afloop. “Charlene het die lengte om drama te doen,” meen Gert. Hy sou vir haar ’n wye romp met blomme en kantdetail ontwerp het saam met ’n styfpassende bostuk en lang moue. “Dis ’n koninklike troue, sy moenie te veel vel wys nie”.

Charlene is ’n Giorgio Armani-ambassadeur en dié ontwerper het ná sy modevertoning in Milan in Januarie aangekondig hy gaan haar trourok maak.

Anders as Kate gaan Charlene dadelik in haar paleis intrek. Sy meen dit het ‘n vrou se hand nodig en sy wil ’n paar moderne veranderinge aan die binnekant aanbring.

Prins Albert het twee buite-egtelike kinders, ’n seun van sewe jaar en dogter van 19 jaar, by twee vroue. Hulle kan die 52-jarige prins egter nie opvolg nie. As hy nie ’n kind binne sy huwelik met Charlene kry nie,  sal prinses Caroline se oudste seun, Andrea, hom moet opvolg.

Kate en Charlene voel albei sterk oor liefdadigheid en gaan dit ná hul troue voortsit. En nes daar gereeld vergelykings tussen Kate en prinses Diana is, word Charlene ook dikwels met prinses Grace vergelyk, veral omdat sy dieselfde blonde skoonheid en grasie het.

Prins William en prins Albert het albei hul ma’s in motorongelukke verloor – William was net 15 met Diana se dood in 1997 en Albert was 24 toe prinses Grace in 1982 oorlede is.

Nou is dit weer tyd vir twee sprokies om die hartseer van destyds te versag. Charlene en Kate glo hulle gaan vir altyd gelukkig saam met hul prinse wees.
Kate het in haar en William se eerste onderhoud ná hul verlowing met Sky News gesê: “Daar is ’n ware romantikus in hom”.

En Charlene het in Tatler gesê: “Die oomblik toe ek Albert ontmoet het, het ek gevoel dis so bestem. Ek is al aangehaal waar ek gesê het my knieë was lam. Dis ’n alledaagse manier om dit te beskryf, maar dis waar. Ek het geweet hy is die een.”

  • cornelia cruywagen adams

    hulle lyk albei soos prinsesse,hoop hulle gaan van hul toekomstige posisie hou,dit gaan harde werk wees.

  • Jacqueline

    Twee vrounes met ‘n sprakende, liefdevolle geaardheid wat liefde van binne na buite uitbeeld. Gee hul albei kans sodat hulle hul voete kan vind. Die publiek moenie altyd net fout vind nie, lewer liewers kommentaar op die positiewe punte. Hulle kan wenners wees, gee hulle tyd!