FOTO Instagram @sofiavergara

FOTO Instagram @sofiavergara

Het jy gehoor?

Dié twee hoogs betaalde aktrises se inkomste verskil net met $3 miljoen!

Baie rolprent-aktrises skakel oor na rolle in TV-reekse en ons kan sien hoekom! Vir die vyfde agtereenvolgende jaar is die Modern Family-aktrise Sofia Vergara aangewys as die hoogs betaalde aktrise in Hollywood se TV-wêreld. Só berig Forbes wat jaarliks ’n lys bekend maak van aktrises wat die meeste geld verdien het.

Sofia, wat $43 miljoen (sowat R601 miljoen) verdien het, se inkomste is net $3 miljoen (sowat R42 miljoen) minder as dié van die jaar se bes betaalde rolprent-aktrise, Jennifer Lawrence. In vergelyking met 2015 het Jennifer se salaris met 11% verminder, berig Independent. Maar met ’n inkomste van sowat $46 miljoen (R643 miljoen) is J.Law die rykste en ook die jongste op dié lys.

Jennifer, wat haar al in die verlede teen ongelyke lone in die bedryf uitgespreek het, se salaris is byna $20 miljoen (R279 miljoen) minder as 2016 se bes betaalde manlike rolprent-akteur Dwayne “The Rock” Johnson, wat met sowat $64 miljoen (R895 miljoen) bo-aan die lys is. Met die groot verskil in lone sou Jennifer net die sesde plek op die lys van manlike akteurs behaal het, berig USA Today.

Volgens Madeline Berg van Forbes is die inkomste-verskil tussen mans en vroue in die TV-bedryf nie so drasties nie, berig Independent. “Die spelers is meer geneig om saam oor hul salaris te onderhandel. Sofia Vergara se salaris is dieselfde as dié van haar manlike medespelers in Modern Family. Net soos Kaley Cuoco en Jim Parsons ewe veel verdien vir die TV-reeks The Big Bang Theory,” verduidelik sy oor die salarisverskille.

Die aktrise Meryl Streep het ook aangekondig dat sy gaan terugkeer TV toe. In 2003 het sy in die reeks Angels in America verskeie karakters gespeel, waarvoor sy ’n Emmy-toekenning ontvang het. Nóú gaan sy in die reeks The Nix, wat op Nathan Hill se gelyknamige topverkoper-boek gegrond is, speel. Die reeks handel oor ’n skrywer en sy vervreemde ma, berig Itechpost.

Party beskryf dit as die renaissance van TV, met ander Oscar-benoemdes wat ook in kort reekse verskyn óf wat seisoen na seisoen te sien is in groot reekse op die klein kassie. Dink net aan die Oscar-benoemde Viola Davis, wat al vir twee seisoene in Shonda Rhimes se ABC-reeks How To Get Away With Murder speelEn die Oscar-wenner Kevin Spacey wat die rol van die antagonis vertolk in die Netflix-reeks House Of Cards.

Hier is nog aktrises op die Forbes-lys van bes betaalde TV-aktrises:

Mindy Kaling – $15 miljoen (sowat R209 miljoen)

Ellen Pompeo – $14,5 miljoen (sowat R202 miljoen)

Kerry Washington – $13,5 miljoen (sowat R188 miljoen)

Priyanka Chopra – $11 miljoen (sowat R153 miljoen)

Julia Louis-Dreyfus – $7,5 miljoen (R104 miljoen)

BronForbesIndependent

Lees nou

Mooiste skoonheid op die Emmy-rooitapyt

Kanye is op Instagram! Uhm … en dis sy eerste foto?

Rocker-pa’s en hul aktrise-dogters