CV

FOTO Justin Badenhorst

Het jy gehoor?

Dink buite die boks – nuwe werke, groot kanse

Het ek maar destyds geweet wat ek nou weet, het ek iets heel anders gaan studeer. Klink dit bekend?

En deesdae is dit al hoe moeiliker om ’n beroep te kies, want volgens die MacArthur-stigting sal 65% van leerlinge wat nou op skool is eendag beroepe hê wat vandag nog nie eens bestaan nie, berig Netwerk24.

Sou jy ooit gedink het daar sal beroepe wees soos ’n ruimte-argeoloog, vulkanoloog, privaatheidsingenieur, UX (User Experience)-ontwerper en ’n data-wetenskaplike?

Wiskunde en wetenskap weer cool

Met die arbeidsmark wat op sy kop gekeer is deur die vinnige verandering in tegnologie en rekenaarwetenskap, lyk dit na ’n goeie opsie om dié rigting in te slaan. Daar is bewegings in Amerika en Engeland om coding (rekenaartaal) ’n verpligte skoolvak te maak. In dié lande probeer hulle ook veral meisies opgewonde kry oor die rekenaarwetenskap.

Dis nie net politici soos Barack Obama en goot maatskappybase soos Sheryl Sandberg wat die boodskap oordra nie. Celebs soos will.i.am, Snoop Dogg, Enrique Iglesias gooi ook hul gewig agter inisiatiewe om kinders te leer kodeer (code).

En wat van die kunstenaars?

Die werkplek het drasties verander en veranderinge vra vir kreatiewe oplossings. Steven Tepper skryf op Fast Company se webtuiste dat groot besighede gewoonlik nie kreatiewe mense ernstig opgeneem het nie, maar dis juis dié mense wat slim oplossings vir hul moeilike probleme kan bied.

Hy skryf:

“Baie mense sien kunstenaars as dromers, outsiders en rebelle. Maar die realiteit is dat kunstenaars ’n bouer, die ingenieur, ’n navorsingsanalis, ’n menslike verhouding-spesialis, ’n projek-bestuurder, ’n kommunikasie-spesialis en ’n verkoopspersoon is. Die kunstenaar is alles én nog – gekombineer met die verbeelding van ’n uitvinder en die moed van ’n ontdekkingsreisiger. Nie ’n slegte stel talente nie vir enige besigheid om te innoveer in ’n wêreld vol wisselvalligheid, onsekerheid en verandering.”

Daai BA-graad is dalk beter vir meer as net manvang!

mood werk lees nou

FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat doen ’n …

Computational Linguist Het jy al vir Siri op jou iPhone ’n belaglike vraag gevra? En haar antwoord was iets snaaks? Daar is mense wat rekenaars “leer” hoe om met ons te kommunikeer – dis waar menslike intellek en kunsmatige intelligensie ontmoet. Dink aan die mens wat die Scarlett Johansson-robotstem in die film Her geprogrammeer het.

Cloud Architect Danksy “die wolk” kan jy enige tyd van enige plek af by jou data uitkom (dink iCloud, WeTransfer, Dropbox). Argitekte wat “wolke” bou en onderhou, is skaars, maar in aanvraag.

Professional Video Gamer Daar’s diegene wat die speletjies toets en dan is daar dié wat dit hul taak maak om die beste in ’n spesifieke speletjie te wees. Hoe is dít ’n werk? Deesdae stel hulle konserte op waar mense dan op ’n groot skerm kyk hoe dié mense ‘n speletjie speel. Die Amerikaner Johnathan Wendel het in 2013 $454 544 (sowat R6,5 miljoen) verdien.

Data-wetenskaplike Werk jy met digitale inligting, ken jy die term big data. Dié wetenskaplikes moet massas data baasraak om webgebaseerde maatskappye te help groei.

IMAX Screen Cleaner Nee, dis nie net jou gewone TV-skerm wat skoongemaak moet word nie. ’n Professionele en opgeleide skoonmaker moet die skerm skoonmaak met iets wat soos ’n groot stofsuier lyk.

Meme Agent Die internet gee graag vir baie mense hul 10 sekondes van roem. Maar wat van daarna? ’n Meme-agent help jou om geld te maak uit jou internet-bekendheid en nog lank in die kollig te bly.

Bronne: ComplexFast CompanyNetwerk24, CNN, Code.org