FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

‘Dis ek, Anna’ – die fliek: Anchien Troskie besoek stel

“Ek is ongelooflik opgewonde en dankbaar oor die fliek.’’

Die skrywer Anchien Troskie het dié naweek die rolprentstel van Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer besoek. Die fliek gaan oor kindermolestering en is gegrond op haar lewe. Sy mag in dié stadium nie veel verklap nie …

Anchien woon saam met haar man, Lafras, die bestuurder van ’n melkplaas, op Oesterbaai in die Oos-Kaap. Hulle het twee kinders, Chris (25) en Joice (23). In 2005, ná jare van selfveragting, het sy besluit om “Anna’’(sy wou toe nog nie haar eie naam gebruik nie) se storie te skryf.

Sy het toe ook nog onder die skuilnaam Elbie Lötter geskryf. Sy móés die seer van die verlede “uitskryf’’ as deel van haar terapie. Haar stiefpa het haar as klein dogtertjie verniel. Sy het gemeen as sy nie die kleintyd-woede uit haar kon kry nie, sou dit haar vergiftig. In 2008 het Die Staat teen Anna Bruwer gevolg.

Die boek het die hele land aan die gons gehad.

“Toe die vervaardiger Neil van Deventer my in 2012 via Facebook genader het om ’n fliek te maak oor my boek, was ek skepties. Ek het al baie sulke geluide in die verlede gehoor. Maar toe hy en die toneelskrywer Tertius Kapp en die regisseur Sara Blecher sowat agt maande gelede op die plaas kom besoek aflê het, kon ek sien hulle het respek vir my verhaal. Hulle sou verantwoordelik daarmee werk.”

Sy het nou genoeg afstand om te besef dit is ’n seëning, ’n manier om haar boodskap die wêreld in te stuur. “Dit is scary om te dink almal gaan my storie op die silwerdoek sien. Die fliek gaan internasionaal bemark word. Maar dit is ’n belangrik tema. Dit moet mense bewus maak van die skade wat kindermolestering aanrig. Ek is oneindig dankbaar dat my lewe goed uitgedraai het. Dit kon so maklik rampspoedig uitgedraai het.’’

Sy het die wêreld se respek vir akteurs soos Marius Weyers, Nicola Hanekom en Elize Cawood. “Daar is hope groot name in die rolprent. Ook Charlene Brouwer, wat mý rol vertolk, is briljant. Ons het die naweek die eerste keer ontmoet en ek verkies dit so. Dis ’n universele verhaal. Elke vrou moet eintlik haarself in só ’n situasie probeer indink en die emosies probeer verwerk. Ek is bly sy het nie voor die tyd met my daaroor gepraat vir haar navorsing nie. ‘’

Anchien is verstom oor hoe lank dit duur om ’n rolprent te maak. “Die akteurs het baie lank, met groot fokus en al die kameras en ligte om hulle, gewerk aan een toneel. Dan het hulle weer vasgebyt en met die volgende toneel begin. Dis ’n groot proses. En hulle moet nie net hul woorde ken nie. Dit gaan oor al daai emosies. Ek het baie respek vir hulle. Dit was interessant om die hoftonele te verfilm in die Paleis van Justisie in Pretoria.

Dit was ’n groot eer om die naweek deel te kon wees van dié proses. Ek dink dit gaan ’n ongelooflike fliek wees. En hoewel ek nie deel is van die produksie nie, voel ek tog dit is so ’n bietjie deel van my baba.’’

  • Die rolprent word voorlopig in Oktober uitgereik