Meryl Streep
Het jy gehoor?

Teleurstelling tot sukses: Van Meryl tot Lizz

Ons hoor dit dikwels, suksesverhale wat met teleurstellings begin het. Die Amerikaanse basketbal-legende Michael Jordan het nie sy hoërskool se basketbal-span gehaal nie en in sy loopbaan meer as 9 000 doele gemis. En die ontwerper van die gloeilamp, Thomas Edison, het glo 10 000 keer misluk voor hy sukses behaal het.

Die afgelope week is ’n biografie oor die Oscar-wenner Meryl Streep se lewe bekend gestel. Her Again: Becoming Meryl Streep deur die Amerikaanse joernalis Michael Schulman, handel oor Meryl se jonger jare voor haar Hollywood-sukses.

Een van die bekendste stories, wat Meryl al self op The Graham Norton Show vertel het, is hoe ’n jong Meryl moes hoor dat sy nie mooi genoeg is vir ’n rol nie. Die Italiaanse regisseur Dino De Laurentiis se seun, Dino Jr., het vir Meryl in ’n teatervertoning gesien. Hy was opgewonde om vir sy pa dié aktrise te wys, want hy het geglo sy sou perfek wees vir sy pa se film King Kong (1976). Maar toe Meryl by die deur instap het die regisseur, in Italiaans, vir sy seun gevra: “Hoekom bring jy vir my hierdie lelike ding?” Meryl kon Italiaans verstaan en het toe geantwoord: “Ek verstaan jou en ek is jammer dat ek nie mooi genoeg is vir King Kong nie.”

Die rol het toe na die Oscar-wenner Jessica Lange gegaan.

Kyk die volledige onderhoud hier:

Meryl het daardie dag besluit om in haarself te glo, ten spyte van ander se opinies. Ná al die jare is sy 19 keer benoem vir ’n Oscar, waarvan sy drie gewen het!

Die komediant Anne Hirsch, wat haar eie kletsprogram The Anne Hirsch Show op YouTube het, vertel haar eerste stand-up-vertoning was  ’n “absolute katastrofe”.

FOTO: Facebook Anne Hirsch

FOTO: Facebook Anne Hirsch

“Dit was nog by Zula Bar in Langstraat, Kaapstad. Ek, vars uit dramaskool, het as nuweling net 5 minute gehad om die gehoor te laat lag. Ek onthou die komediant Loyiso Gola was die seremoniemeester. Ek het toe sommer besluit om ’n karakter te doen. Haar naam was Patty Patta en sy was ’n televisie-aanbieder wat ’n SMS-kompetisie aangekondig het. Patty was by Zula om die gehoor sover te kry om vir haar SMS’e te stuur! Ek het al my vriende genooi, my tweede fout. Dit was ’n absolute katastrofe, natuurlik. Maar ek onthou toe ek van die verhoog af stap met my hemp wat net voor materiaal gehad en nie agter nie, want televisie-aanbieders word net van voor af gesien, toe dink ek net: “Goed, waar’s my volgende show?!”. Daar was nog baie katastrofes langs die pad, maar daai insidente is net daar om oor te lag en om mens te inspireer,” vertel sy aan SARIE.com.

Anne sê dis belangrik om weer te probeer en nooit op te gee nie.

“Oor en oor en oor … tot iemand uiteindelik lag!”

Op 21-jarige ouderdom het die aktrise, regisseur en skrywer, Lizz Meiring, oftewel Bizzie Lizzie, een van haar grootste teleurstellings beleef.

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

“Ek het teenoor Franz Marx gespeel in ’n produksie by die SAUK. Toe vertel hy my die regisseur Annie Basson is besig om oudisies te hou vir Hennie Aucamp se Die hartseerwals. Die hoofkarakter was Hetta en sy was ’n verskriklik groteske meisie. Ek het Hennie se verhale gelees. Dit was ’n reuse-droom om hierdie rol te speel,” vertel Lizz aan SARIE.com.

Sy het toe besluit om vir Annie te gaan oudisie. En het haar hart in die oudisie gestort.

“Ek het sommer vir Annie in haar kantoor gaan oudisie. Ek wou so graag die rol kry.”

Maar kort voor lank het Annie vir Lizz laat weet dat sy nie die rol gekry het nie.

“Dit was vir my verskriklik. Ek het gevoel dis ’n droom wat vernietig is. Maar net daar het ek besluit om nooit weer my hart op ’n rol te sit.”

Lizz sê soms kom ’n geleentheid oor jou pad en ander kere is dit nie vir jou bedoel nie.

“Jy moet net in jouself glo. En vertrou in jou eie talente. Maar jou ego moet nooit groter as die storie wees nie!”

Sy het besluit om nie toe te laat dat só ‘n teleurstelling haar lewe definieer nie.

“Ek is bevoorreg genoeg om vir 32 jaar in dié bedryf nie een enkele dag sonder werk te sit nie.”

20160429_VGB Tag

Lees nou

Die één rol waaroor Meryl Streep spyt is

Beyoncé se fenomeen Lemonade

Kate Middleton pronk op Vogue