FOTO: Hanri Human

FOTO: Hanri Human

Het jy gehoor?

Dís hoe Nadia Beukes gewig verloor voor troudag

’n Bruid het baie om te doen, en as jou naam Nadia Beukes is, het jy baie op jou doen-lys. Die aktrise en TV-aanbieder Nadia Beukes trou in September met David de Villiers, ʼn eiendomsontwikkelaar van Pretoria. Dit is nog ’n hele paar weke, maar die twee is hard aan die voorberei vir hul spesiale dag.

Vir hulle is dit meer as net mooi lyk en lekker voel op hul troudag. Dis ’n hele nuwe leefstyl! Nadia het reeds 3,5 kg verloor & deel haar wenke met SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé.

Wat is jul eetplan? 

Ek en David het so ’n paar maande gelede besluit om gesonder te probeer leef, veral met ons troue wat voorlê. Dit is vir ons belangrik om gesond te leef eerder as om net ’n dieet te volg. Ons het die dieetkundige Amanda Kuit gaan sien en volg sover moontlik haar eetplan. (Sien Amanda se wenke onderaan dié artikel.)

Hoe verskil die eetplan vir mans en vroue? 

Mans en vroue verskil baie, maar snaaks genoeg, as dit by ons eetplan kom, verskil dit eerder in porsiegrootte as soort kos. Volgens die eetplan kan David meer stysel eet as ek. Ons het ’n eetplan gevra wat ons toelaat om saam kos te koop en te maak en Amanda het dit so vir ons uitgewerk.

Hoe lyk die eetplan? 

My eetplan bestaan basies uit 3 maaltye en 2 versnaperinge wat volgens gewig en voedselgroepe uiteengesit is. Dit is belangrik dat ek ook 1,5 liter water per dag drink en vir elke koppie gewone tee of koffie nóg ’n ekstra glas water. Alkohol is nie juis goed nie, maar jy kan elemente op die eetplan uitruil en een blikkie dieetkoeldrank per dag is toelaatbaar. Suikervrye jellie is iets waarvan ek baie kan eet en sekere groente en vrugte is beter keuses as ander. 

Is dit volhoubaar? 

Ek dink beslis ’n gesonde leefstyl is volhoubaar en as jy weet wat jou liggaam nodig het, neem jy beter besluite. Dit is nie lekker om nee te sê vir ’n lekkerny nie, maar as jy regtig lus is vir iets, eet dit en pas dan net jou eetplan aan vir die res van die dag of oefen meer. Dit is nie altyd maklik nie en vra selfbeheersing en fokus, maar dit is die moeite werd.

Maar dit help dat ek saam met ’n klomp akteurs werk wat elke dag as rugbyspelers en pompom-meisies op televisie verskyn. My Getroud met rugby-familie is baie ondersteunend en help my meer as wat hulle weet. Daar is gesonde kos op stel en die akteurs motiveer mekaar om hul beste te lyk.

Hoe voel jy? 

Ek het meer energie en meer beheer oor my lewe. My vel lyk beter en ek slaap ook meer. 

Oefen julle?

David oefen meer as ek, maar dis iets wat ek ook meer wil doen. Ek moet net die moed bymekaar skraap om deur die eerste twee weke van ’n oefenprogram te kom.

Gaan jy sê wat jy nou weeg? 

So 3,5 kg minder as wat ek geweeg het toe ek met die eetplan begin het. Dit klink min, maar ek pas weer in my klere en voel gemakliker in my eie lyf. Ek is nou presies halfpad.

Wat is jou bederfkos? 

Nomu het ’n skinny warmsjokolade wat ek geniet sonder om skuldig te voel.

En vir Dave?

Hy waardeer goeie wyn. Hy sal net die volgende dag harder oefen of ’n bietjie minder eet. 

Wat sê die dieetkundige?

’n Eetplan word vir elke persoon volgens sy of haar behoeftes en huidige leestyl uitgewerk. My eetplan fokus daarop dat elke sel in jou liggaam genoeg voedingstowwe in die regte verhoudig kry. Die eetplan werk omdat die soort kos wat jy eet permanente vetverbranding veroorsaak. Ek glo nie in die woord “kroek” nie – al jou gunstelingkos behoort by jou eetplan ingesluit te word sodat dit volhoubaar is, sê Amanda Kuit.