Het jy gehoor?

Dis ‘n seun vir Jessica Simpson + planne om die gewig af te skud

Die 32-jarige sangeres en mode-ontwerper Jessica Simpson en die voormalige Amerikaanse voetbalspeler Eric Johnson het gister Ace Knute (uitgespreek as Ka-nute) Johnson verwelkom. Jessica se mediaverteenwoordiger het gesê ma en baba is gesond. Ousus Maxwell is blykbaar ook baie opgewonde om met haar nuwe boetie te begin speel.

Jessica Simpson

FOTO: Jessica en Eric

Jessica en Eric het nie op hulle laat wag nie, want Maxwell is net ‘n jaar en 2 maande ouer as Ace. Sy het ná die geboorte van Maxwell 27 kg met behulp van Weight Watchers verloor en dié dieet gevolg tydens haar swangerskap met Ace.

Maxwell

FOTO: Ousus Maxwell

“Met die eerste swangerskap het ek geëet wat ek wou en ek het dit regtig geniet. Hierdie keer, omdat ek steeds die Weight Watchers-benadering gevolg het, het ek baie gesonder gevoel,” het Jessica aan Ellen DeGeneres op haar kletsprogram gesê.

Jessica SimpsonJessica Simpson

FOTO’S: Hierdie keer het Jessica die gewig tydens haar swangerskap afgehou.

Nuwe ma Kim Kardashian wat op 15 Junie die lewe geskenk het, het blykbaar nog nie met haar oefenprogram begin om haar bekende figuur terug te kry nie. Haar fiksheidsinstrukteur, Tracy Anderson, sê hulle sal in die volgende paar weke begin oefen. “Sy gee nou eers aandag aan die baba,” sê Tracy. “Ek het gedog sy sou baie bekommerd oor haar gewig gewees het, maar sy is nie. Sy’s nou in baba-hemel.”

Tracy, wat verantwoordelik is vir celeb-lywe soos die van Gwyneth Paltrow en Gisele Bündchen, het gesê die gerugte dat Kim 30 pond (13 kg) in 30 dae wil verloor, is snert. 

Tracy gaan eers 5 weke ná die geboorte begin om Kim se maagspiere te versterk. In die begin gaan hulle 4 oefensessies ‘n week hê en dan later beweeg na 5 tot 6 per week.

Ander sterre wat ook hierdie jaar ‘n draai in die kraamsaal gemaak het, is:

Channing Tatum se vrou, Jenna Dewan-Tatum (kyk hier na hul pragtige babadogter, Everly).

Kirsten Bell van Veronica Mars-faam.

Die voormalige meisie van Hugh Hefner, Holly Madison.

Die sangeresse Lily Allen en Shakira (lees meer oor Shakira en Gerard Piqué se eersteling hier).

Bronne: Huffingpost en Huffpost Celebrity

[box:full:red:both]

NUUT! Kry swangerskapraad per SMS

Mama (The Mobile Alliance for Maternal Action) het ‘n nuwe diens wat vir swanger vroue inligting via SMS stuur oor hul gesondheid en allerhande raad vir hul veranderende lywe. Enigiemand wat ‘n selfoon het, kan aansluit vir dié diens.

Al wat jy moet doen, is om op jou selfoon *120*2112# te skakel en die kort vraelys te voltooi. Jy sal dan weekliks inligting kry wat op jou van toepassing is. Dit sê ook vir jou wat die gevaartekens is om dop te hou en skei die kaf van die koring as dit by swangerskapmites kom.

Die Wits Reproductive Health and HIV Institute is betrokke, asook die Praekelt-stigting, USAID, Johnson & Johnson, Vodacom en die VN.

[/box]