sk1012in_jou_glas3
Het jy gehoor?

Dis weer tyd vir die Ghoemas!

SARIE is een van die media-vennote vir vanjaar se Ghoema-toekennings.

Kunstenaars word in 26 verskillende afdelings vereer en tydens die geleentheid word ons taal en ons musiek gevier. Benoemdes vir GHOEMA 2013 word op Sondag 3 Maart tydens die Jukebox-uitsending op kykNET bekend gemaak.

Die GHOEMAS is die enigste onafhanklike musiektoekennings vir Afrikaanse musiek en vanjaar het die Ghoema Musiektrust se raad besluit om die kontinuïteit van die projek te hersien. ‘n Splinternuwe logo is vir die geleentheid ontwerp en vanjaar se wenners stap weg met ‘n asemrowende 24-karaat goue Ghoema-trofee wat spesiaal vir die toekennings ontwerp en vervaardig word.

Die toekenningsaand beloof om asemrowend te wees met optredes deur Juanita du Plessis, Snotkop, Nadine, Corlea Botha, Monique, Bobby van Jaarsveld, Johan c Venter, Emo Adams, Willem Botha en Jak de Priester.

Ander bekendes wat te siene is as kategorie-aanbieders, sluit in André Odendaal en Michelle Botha, oftewel Botha Botha en Cornia van Getroud met Rugby-faam, die Spingbokke Morné Steyn en Juandre Kruger, 7de Laan se Pierre van Pletzen en Ivan Botha en ook Binneland se Stefan Ludik en Hanli Rolfes.

Die Ghoemas is die enigste geleentheid in Suid-Afrika waar meer as 600 bekendes onder een dak te siene is en word aangebied deur hoofborg kykNET, in samewerking met Rapport. Ander borge sluit in SARIE Tydskrif, Jacaranda FM en ook die Afrikaanse musiekkanaal kykNET MUSIEK.

Kaartjies vir GHOEMA 2013 is vanaf 4 Maart beskikbaar by Computicket.