sr1104nataniel-533x800
Het jy gehoor?

Dít gaan Nataniël Kersfees doen

Ná honderde jare is daar nog steeds wesens wat glo dat nuwejaarvoornemens iets goed, prakties of werklik is, dat dit wat op 1 Januarie besluit word, op 1 Februarie nog onthou gaan word. Nonsens. Nuwejaarsvoornemens sneuwel vinniger as roomys in ’n warm kar.

Die perfekte tyd vir voornemens is wel Kersfees, die tyd waar ons ten spyte van moegheid, te veel familie, te veel gewig, te veel laaste takies en te veel emosionele verpligtinge nog steeds afwagting beleef. Al is jy hóé bestand teen blink papier, liggies en geld bestee, al is jy geestelik hóé gevorderd of afgesonder (my ouma het altyd van so iemand gesê: Los haar, sy sweef al weer), moet jy iewers in jou binneste ’n kersie voel brand of ’n teelepel vol opwinding voel roer, anders is jy morsdood. Dit is nóú die tyd om ’n plan te maak, ’n taak aan te pak, ’n lewe te verander of ’n wond te lek.

Hierdie jaar is my voornemens amptelik deel van die verrigtinge, dis neergeskryf en dit gaan plaasvind. Ek deel dit hier net as voorbeeld, net om te wys dis makliker as wat jy dink. En geheel en al moontlik.

Elkeen maak sy eie lys.

Ek gaan:

IEMAND VERRAS. ’n Hele ruk terug het ’n wildvreemde dame vir my ’n geskenk by my winkel gelos. Dit was ’n sagte handgemaakte kombers (ek weet nie of dit gebrei of geweef is nie), met verskillende skakerings van gryse en swart en een skokhelder strook. Hierdie ding is beeldskoon en pryk in my huis. En het opgedaag op ’n dag vol mismoedigheid. Ek wil iemand só laat voel.

HOOP GEE. Hoop, suurstof en water is al wat nodig is. Begin met hoop. Koop of maak ’n asemrowende geskenk vir iemand wat nie deel is van die binnekring nie, iemand wat dit glad nie verwag nie, iemand wat deur ’n rowwe tyd is. Mense kry swaar, is benoud, loop krom onder die geheime, leef met siektes of het nie ’n spreekbeurt nie. Een gebaar kan ’n lewe verander, iemand herinner dat daar wel moontlikhede en goedheid is. Ek wil iets absoluut stunning doen, iemand se asem wegslaan.

KOOK VIR ’N HELE DAG. Ter ere van my ouma gaan ek ’n hele dag net kook. Die kuns om ’n hele dag te eet word weer en weer vervolmaak, maar ek wil kook soos my ouma het, elke jaar voor die feestyd. Alles hoef nie onmiddellik verslind te word nie, daar is dinge soos konfyt, blatjang, koekies, brode en pasteie, eetgoed wat geblik, gebottel, gevries, gebêre en gepos kan word, goeters wat in Junie onder deksels en papier kan uitloer met die reuk en heerlikheid van Kersfees.

REGTE GOED WEGGOOI EN REGTE GOED HOU. Die Nuwejaar val elke keer op my soos ’n muur, as ek uiteindelik weer opstaan en asemkry, is dit April. Hierdie Kersfees is my huis silwerskoon en sonder ’n krummeltjie bog. Ek gaan ontslae raak van iedere oorlas, lewend of staties, niks gaan my langer oorrompel of versmoor nie. En dit wat ek nog kan gebruik, gaan gebruik word. Groente, vrugte en kruie wat ietwat lamlendig voorkom, gaan nie asblik toe nie, dit gaan verander in souse, strope, aftreksels, soppe en pesto. Niks word gemors.

MYSELF OORTUIG DAT EK WEL ’N VERSKIL MAAK. Ná hierdie jaar moet jy rêrig verslaaf wees aan iets wat gom bevat as jy nog glo dat ’n regering of ’n wêreldmoondheid enige doel behalwe teleurstelling het. Die spul het hierdie planeet uiteindelik gevat na ’n plek van waar hy moeilik gaan terugkeer. Maar daar is ligpunte, groen kolle, hier en daar, dis waar ek wil woon en wei. En ek gaan hard praat as ’n domme daarmee wil lol, ek gaan hard werk en vir dies naby my ’n tuiste maak, ek het gesien ek kan.

En dis genoeg vir een Kersfees, ’n goeie begin. So dink ek.