Bertha le Roux Julie 2014 jul july
Het jy gehoor?

Doen-dinge vir Julie

Ons is verby die halfpadmerk van 2014 en die jaar begin nou vinnig einde se kant toe loop. SARIE se spesialis-redakteurs gee vir jou maandeliks ’n doen-lysie om jou lewe vol inspirasie te maak. Hier is die doen-dinge vir Julie …

Amaria Carstens, moderedakteur

Die koue is hier in sy volle glorie – tyd om jouself toe te vou in ’n jas. Kyk HIER vir die nuwe jas-trends & waar jy dit kan koop.

Lees op SARIE.com: Saartjie se mode-blog

Lounette Fourie, dekorredakteur

Julie is een van ons koudste maande. Skep ’n warm atmosfeer in elke vertrek van jou huis, sonder om noodwendig verwarmers aan te skakel.

  • Sorg vir ekstra komberse en warmwatersakke in elke slaapkamer
  • Brand groepe kerse vir sagte lig
  • Koop ’n paar nuwe kniekombersies wat pas by die kleurskema van jou sitkamer
  • Trek nuwe slope oor strooikussings wat te koel vertoon. Kies materiale met ’n tekstuur soos fluweel of wolmengsels
  • Winter is ook die tyd wat ’n mens lus kry vir brei. Haal die breipenne uit en brei self ’n paar kussingoortreksels of ’n kombersie

Lees op SARIE.com: Brei ’n oortreksel vir jou stoel

Lydia van der Merwe, gesondsheidredakteur

Troos jouself met ’n beker kakao op ’n koue winterdag. Dis propvol antioksidante, wat vlakke van die streshormoon kortisol verlaag. Hoӫ vlakke kortisol verlaag nie net jou immuniteit nie (en stel jou so meer bloot aan winter-snuffels), dit veroorsaak ook dat jou liggaam aan maagvet bly vasklou.

Onthou kakao is nié warmsjokolade nie!

Lees op SARIE.com: Die krag van kakao

Charis Labuschagne, skoonheidsredakteur

In die winter is jou hare en vel droër. Dis nou die tyd vir ekstra koestering. Voed jou hare gereeld met ’n haarmasker, gebruik ’n nael-olie op jou naelvelletjies elke aand voor jou gaan slaap en gebruik ’n ryk, romerige lyfbotter.

Lees op SARIE.com: Maak jou eie lyfbotter

Herman Lensing, kosredakteur: SARIE

Dié maand eet ons sop en brood. Maar vergeet van ure voor die stoof staan om brood te bak – kies kortpad in die kombuis met winkeldeeg en tert dit op tot iets soos die handewerk van ’n meester-bakker. Ek wys jou in die Julie-uitgawe hóé!

Die nommereen-reël wanneer jy brood bak is om seker te maak jy laat die brood genoeg rys ná jy dit gevorm het. Die rysproses sorg vir lekker tekstuur en daai bekende sterk gissmaak wat jy by tuisgebakte brode kry.

Dieselfde geld die sop: die geheim van heerlike sop is nie hoe lank dit kook nie, maar eerder watter bestanddele jy gebruik. Maak seker jy gebruik goeie bestanddele van die beste gehalte. Kies goeie aftreksel as jou basis. Maak seker jy gebruik bestanddele wat in seisoen is, dit is goedkoper en smaak beter!

Lees op SARIE.com: Sop in die mikrogolf!

SARIE.com

Op 13 Julie kom die Wêreldbeker-sokkertoernooi tot ’n einde. Hoewel daar geen Afrika-spanne meeding om die titel nie, is dié eindstryd iets om te kyk – dit gaan internasionaal die sportgeleentheid wees met van die grootste kykersgetalle nog!

Lees op SARIE.com: Inspirasie uit Brasilië

juliedoen

Kry jou SARIE en SARIE KOS in die pos of op jou rekenaar, foon of tablet – TEKEN HIER IN