FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

EERSTE KYKIE: Fliek oor Joost van der Westhuizen – Joost: Spel van glorie

SARIE.com bied jou ’n eerste kykie na die rolprent Joost: Spel van glorie. In dié fliek vertel Joost self sy lewensverhaal – hy praat oor sy sportloopbaan, sy gesin, die seksskandaal en sy lewe met motorneuronsiekte (MNS).

Odette Schwegler is die regisseur en vervaardiger van dié fliek wat tydens die Silwerskermfees sy première het. Volgens Beeld gaan Joost ook in die teater wees wanneer die fliek die eerste keer wys.

Hier is meer inligting oor dié fliek

Die wrede noodlot trek niemand voor nie. Tragedie kan enigeen tref.

Suid-Afrikaanse rugbyheld Joost van der Westhuizen het dít geleer toe hy met motorneuronsiekte gediagnoseer is, ’n vernietigende siekte wat die sentrale senustelsel aanval en lei tot verlamming en die dood. Maar waar ander hul lot moeilik sou aanvaar, het Joost dit gepak met alles wat hy het.

In sy stryd teen die siekte veg hy vir sy lewe, hy veg vir die toekoms van sy mede-lyers, en hy herontdek sy eie menslikheid.

Meer as ’n spanspeler, het Joost die Man van die Wedstryd geword.

Hierdie is sy verhaal.

Samevatting

Jare lank was hy die prins van SA rugby. Die wêreld het gesteier van skok toe die nuus in April 2011 breek dat Joost van der Westhuizen gediagnoseer is met motorneuronsiekte (MNS). Die siekte val die sentrale senustelsel aan en veroorsaak toenemende verlamming. Sover bekend is daar geen genesing nie. Die prognose is die dood.

Elkeen wat Joost in aksie gesien het, weet hy gee nie oor sonder om te baklei nie. Op die veld kon sy durf en vaardigheid die spel omkeer. Nou word dit ingespan in ’n geveg om oorlewing, en meer belangrik, om ’n verskil te maak in die lewens van ander met die siekte.

Spesialiste het gesê hy sou binne ’n jaar in ’n rystoel wees en nie sy 42ste verjaardag sien nie. Joost het dit nie net stylvol gevier nie, maar internasionaal begin reis met sy J9-Stigting om die top-navorsers te ontmoet wat werk om ’n geneesmiddel te vind. In Brittanje het hy die Universiteit van Edinburg se Euan MacDonald Centre for Motor Neuron Disease besoek. Hy het MNS-beskermvrou HKH prinses Anne ontmoet, en saamgespan met die gewese rugbyteenstander Scott Hastings van die Britse Leeus, wat nou ook ’n beskermheer in die geveg teen die siekte is. In die VSA het hy die voormalige sokkerster en mede-MNS-vegter Steve Gleason ontmoet en deelgeneem aan kliniese studies deur die wêreld se voorste navorsers in MNS. Daarna is die span Australië toe vir nog hoëvlak-vergaderings en navorsing.

Joost se soeke na genesing verslap vir geen oomblik nie, en sy gees het die mense om hom gemotiveer om vir die saak te veg, want ondanks die teenslae wat hom getref het, bly Joost ’n man om te beny.

Joost sê:

In die begin gaan jy deur al die emosies en jy vra, “Hoekom ek?’”Dis eenvoudig. Hoekom nie ek nie?  As ek hierdeur moet gaan om toekomstige generasies te help, hoekom nie ek nie?