oscar pistorius lees nou blocks
Het jy gehoor?

Eerste onderhoud met Oscar Pistorius Vrydag op M-Net

Stel jou PVR. Die eerste televisie-onderhoud met Oscar Pistorius sedert die tragiese gebeure op Valentynsdag 2013 word Vrydag 24 Junie op M-Net uitgesaai.

Oscar Pistorius: The Interview sal om 22:55 op kanaal 101 uitgesaai word, en weer om 23:55 op kanaal 115. Die eksklusiewe dokumentêr sal ’n diepte-paneelbespreking insluit.

In die emosionele onderhoud met die bekroonde Britse joernalis Mark Williams-Thomas praat Pistorius oor die aand toe hy sy meisie, die 29-jarige model Reeva Steenkamp, doodgeskiet het. “Toe ek my kom kry, het ek 4 skote afgevuur. Ek het toe oor en oor geskree: ‘Asseblief, God, laat dit net nie wees wat ek dink dit is nie.’

“Op daardie oomblik het ek geweet ek het haar doodgemaak.”

Pistorius is in 2014 deur regter Thokozile Masipa skuldig bevind aan strafbare manslag, waarvoor hy vyf jaar tronkstraf opgelê is. Ná een jaar in ’n maksimumsekerheidstronk is Pistorius vrygelaat om verder sy vonnis in huisarres uit te dien.

In 2015 het die Bloemfonteinse appèlhof Pistorius skuldig bevind aan moord. Hy word nou deur ’n minimum van 15 jaar tronkstraf in die gesig gestaar. Die finale vonnisoplegging sal op 6 Julie 2016 in die hooggeregshof plaasvind.

Kyk ’n uittreksel hier