FOTO: Instagram  crystaldonnaroberts

FOTO: Instagram crystaldonnaroberts

Het jy gehoor?

Crystal-Donna Roberts benoem by Internasionale Rolprentfees in Venesië

The Endless River is die eerste plaaslike rolprent wat meeding vir die Goue Leeu-prys by die Internasionale Rolprentfees in Venesië – die wêreld se oudste filmfees. Dit is ook die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse aktrise benoem is in die kategorie vir Beste Aktrise, berig Netwerk24.

Die aktrise en Pasella-aanbieder Crystal-Donna Roberts gesels met SARIE.com oor haar benoeming, toneelspel en haar troue later vanjaar.

Hoe voel jy oor die goeie nuus? 

Ek het nie woorde om te beskryf hoe ek voel nie. Dinge is deurmekaar en so baie goed moet nog gedoen word, maar ek is verskriklik opgewonde. Dis ook vreemd. Ek het dit glad nie verwag nie, maar ek moet bysê: Later klim jy onder die vel van ’n karakter in en jy verstaan waarom die karakter doen wat sy doen. Jou spel is dan geloofwaardig.

The Endless River is geskiet op die Overbergse dorp Riviersonderend en vertel die verhaal van die verhouding tussen ’n Fransman en ’n plaaslike kelnerin nadat sy gesin op hul plaas vermoor is. Wat dink jy maak dié fliek spesiaal? 

Oliver Hermanus, die skrywer en regisseur, het dit baie goed geskryf. Toe ek die draaiboek begin lees, kon ek dit nie neersit nie. Dié fliek is nie noodwendig ’n liefdesverhaal nie, maar wel ’n drama met ’n fokus op menslikheid.

Hoe was dit om saam met die Suid-Afrikaanse skrywer en regisseur Oliver Hermanus te werk? 

Uitdagend en wonderlik! Hy weet presies wat hy wil hê en hoe om dít uit sy span te kry. Hy ken sy akteurs en weet wat om te sê om ’n spesifieke reaksie te kry. Sy woorde sit so lekker in ’n akteur se mond. Nie almal kan so goed skryf én direct nie.

Die Internasionale Rolprentfees vind in September plaas. Droom jy daarvan om ’n internasionale aktrise te wees?

As Woody Allen bel, sê ek vir seker ja! Maar ek is baie gelukkig in Suid-Afrika. Plus, jy hoef nie oorsee te trek om op ’n internasionale platform erkenning te kry nie. Hier praat ons nou van ’n Suid-Afrikaanse fliek, met ’n plaaslike regisseur, bemanning en akteurs wat Venesië toe gaan, dís lekker!

Wat is jou raad aan opkomende akteurs?

Werk altyd hard, moenie moed opgee nie en doen baie oudisies. Onthou, leer en ontwikkeling hou nooit op nie. Bemeester meer as een vaardigheid in die filmbedryf, soos redigering en beligting.

Jy is so bedrywig. Hoe gaan dit met die troureëlings? 

Dit gaan baie goed met my en Schalk (Cornelessen). Die reëlings gaan bietjie dol. Ons trou op Stellenbosch in Oktober en gaan sowat 120 gaste nooi.

Die Internasionale Rolprentfees in Venesië vind van 2 – 12 September op die Lido-eiland plaas.

Vinnige feite 

  • The Endless River sal met 21 ander internasionale rolprente meeding.
  • In 2015 is die Oscar-bekroonde Birdman met dié gesogte prys huis toe.
  • Die akteurs Kristen Stewart en Juliette Binoche is saam met Crystal-Donna in die kategorie vir Beste Aktrise benoem.

Nóg ’n plaaslike fliek kry internasionale erkenning

Die Windpomp maak later dié jaar weer ’n draai in die VSA. Dié bekroonde Afrikaanse, liefdesverhaal is geselekteer om by die Long Beach International Film Festival te speel, waar dit ook teen 50 ander internasionale flieks sal meeding.

Die Windpomp het by beide die Sonoma International Film Festival in California en Cannes-rolprentfees in Frankryk gewys. Leandie du Randt vertolk een van die hoofrolle.

Bron: Netwerk24

Lees ook