FOTO Francois Pistorius

FOTO Francois Pistorius

Het jy gehoor?

Oud-model Teresa de Klerk praat oor haar moeilike jaar

Teresa de Klerk was die goue meisie met klaarblyklik alles: skoonheid, ’n suksesvolle modelloopbaan en ’n man wat haar koester. Verlede jaar, ná ’n stryd met breinkanker, is hy oorlede. Weke daarna óók haar pa. Met haar twee kinders beur sy nou vorentoe, na die lig.

1251173100-m

Teresa de Klerk was ’n eg Afrikaanse meisiekind; met twee ouer broers ’n “wilde kindjie”, maar ook immer die vredemaker. Sy het gedroom van joernalis wees.

Met ’n gesig en lyf wat jou asem wegslaan, het die geluksgodin egter ’n glansryker toekoms in haar skoot gegooi. Ma René was teksredakteur (en later redakteur) by die Vlieënde Springbok, destyds die SAL se gratis vlugtydskrif. Om geld te spaar is die 15-jarige Teresa as model vir ’n mode-artikel gebruik. Haar eerste keer voor die kamera, maar die fotograaf was beïndruk.

teresa2

Toe gebeur dinge vinnig. Terwyl haar tydgenote matriek skryf, moes sy op 16 haar voete in Milaan se modewêreld vind. Sy was die eerste plaaslike Wonderbra-model en verskeie kere op die voorblad van SA Sports Illustrated se swembroek-uitgawe. Een spesifieke maand was sy tegelykertyd op die voorblaaie van vyf plaaslike glanstydskrifte.

000000169319-teresa_de_klerk-fit

Aan die einde van die negentigs het haar prins haar opgeraap: Die Duitse bankier, Steffen Klein. Hy het in Londen gewerk en hul kinders is ook daar gebore. Leya is op 14 reeds ’n lang, blonde skoonheid, nes haar ma. En Lenny dring op 12 aan op sy regte naam, Lennon. Hy wil eendag basketbal speel en dit lyk darem net beter op ’n ou se rug.

Steffen het reeds in Londen gedurig hoofpyn gehad en in Duitsland het dit meer dikwels gebeur. Dit sou hom van Maandag tot Vrydag ry, Saterdag sou hy soms heeldag slaap en Sondag dalk beter voel.

“Hy was dinamies en het sy werk geniet. Maar hy wou ook tyd hê om sy gesin te koester. Dus het ons in 2011 Kaapstad toe verhuis. Ons Duitse hovawart-honde, Indy (Indiana Jones) en Sunny, ook saam.

“Daardie selfde jaar was ons op ’n ongelooflike motorfiets-rit Amerika toe. Hy vyf weke en ek twee weke saam met sy Harley-gang. Die tekens van die kwaadaardige breingewas was egter reeds daar. Hy was soms rigting-verward en ’n bietjie deurmekaar.”

Ook dit het hy getroef, met Indy sy getroue metgesel. Die lojale hond aanvaar nie “nee” as hy wil gaan loop nie. Steffen kon nouliks trappe klim, maar Indy het net aangehou: Kom jy?

“Sy positiwiteit, krag, dis wat ek uit sy ervaring wil put. Hy was so trots, hy wou nie vir sy kinders wys hy het seer nie. Selfs die nuus, ‘ek is siek’, het hy verwater. Want kyk, ek is nog jul pappie. Nie ’n oomblik het hy vir homself jammer gevoel, wou hy iemand se jammerte hê nie.”

IMG_9273

FOTO Francois Pistorius

In Junie verlede jaar, afgetakel deur die chemo, kon hy nie meer “dinge bymekaarhou” nie. Dit het hom vergiftig, sy organe aangetas. Hulle het sáám besluit: Dis die einde van die pad. “Die pyn en lyding raak te veel en jy vra jouself later af: Vir wie doen jy die guns? Nie vir jouself nie, nie vir jou gesin wat sien hoe jy swaarkry nie, so ja . . . Steffen is daardie Oktober oorlede. Hy was 53.

Teresa se pa, Ewald, sterf skaars twee weke later. Haar ouers is jare gelede geskei en hy was in die versorgingseenheid van ’n Kaapstadse tehuis vir bejaardes. Dit was nie onverwags nie, hy was baie siek weens ’n hartkwaal.

Twee mense wat belangrike rolle in jou lewe gehad het, is skielik nie meer daar nie.

“Dis moeilik vir ons. Maar hulle is goeie kinders, hul voete op die grond. En só beweeg ons vorentoe: As ons oor ons hartseer wil praat, is dit goed so. Jy moet daai seerkry voel. Maar môre, môre moet jy weer kan opstaan. Jy kan nie toelaat dat die pyn en smart jou onderkry nie. Want die lewe bied nog so baie.”

Reeds meer as anderhalf jaar is verby en sy het meer perspektief. Planne vir haarself en die kinders. Soms wil sy soos ’n atleet uit die blokke wegspring. Maar sy besef sy moet sagkens met haarself werk, goed wees vir haarself. Die modelwêreld gaan alles oor die young and beautiful, sê sy. Tog is sy steeds in aanvraag, daar is plek vir ouer modelle. Gemaklik in hul vel, oor vrouwees, ma-wees. Sy stel eintlik meer belang in wat aan die ander kant van die kamera gebeur, watse lens gebruik die fotograaf, die beligting.

“Daar is altyd lig anderkant, altyd hoop. En die vashou daaraan, dit is al wat jy op die oomblik het.”

FOTO Francois Pistorius

FOTO Francois Pistorius

 Lees nou:

Jana se Erfsondes kry nuwe seisoen!

Hoe lank voor jy jou grimeerprodukte moet uitgooi? Plus rek dit só

Jackie O op die silwerdoek