Jennifer in 2013 
FOTO Gallo Images / Getty Images

Jennifer in 2013
FOTO Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

‘Mý lyf, mý saak’ – Jennifer Aniston, Ashley Graham en ander

Body shaming. Daar’s nog nie ’n lekker Afrikaanse woord vir die verskynsel nie, maar ons sien dit daagliks. Dit verwys na onvanpaste, negatiewe uitlatings en kommentaar oor iemand se liggaam of besluite oor haar liggaam. 

Jennifer Aniston: ‘Ek’s nou keelvol

Hoe sal jy voel as die wêreld die heeltyd (hardop) wonder wanneer jy gaan trou en swanger raak? Dit sal begin voel asof jou baarmoeder aan ander mense behoort! Só skryf Jennifer Aniston in ’n ope brief op Huffington Post se webtuiste wat intussen viral gegaan het.

“Ek’s nie swanger nie. Ek is wel nou keelvol.”

- Jennifer Aniston

Vir 15 jaar was daar verskeie gerugte dat Jennifer swanger is – soms net omdat haar maag ’n bietjie uitstaan. Maar sy skryf dis nie ’n unieke verskynsel wat net háár raak nie. Alle vroue kry te doen met ander mense wat dink hulle het seggenskap oor jou lyf.

Haar brief is goed deurdink en uitstekend geskryf – ons beveel aan dat jy die hele stuk in haar woorde lees en dit aanstuur vir jou ma, dogter en vriendinne.

“Ons is volledig met of sonder ’n maat, met of sonder ’n kind. En wat ons liggaam betref, kan ons vir onsself besluit wat is mooi.”

- Jennifer Aniston

Ashley Graham: ‘Sexy dye’

Ashley Graham, die eerste plusgroot model wat op die voorblad van Sport Illustrated Swimsuit verskyn het, is een van die bekendes wat teen body shaming veg. Sy het ook verlede jaar ’n inspirerende TED-praatjie hieroor gelewer (kyk dit onderaan dié artikel). Nou het sy die wêreld wéér aan die gons. Waar ons baie celebs gewoonlik net sien ná die Photoshop-kwas hulle beetgehad het, deel Ashley haar lyf op sosiale media – met baie trots en sonder enige Photoshop.

En dís ook haar gunsteling-sêding:

FOTO Instagram @theashleygraham

FOTO Instagram @theashleygraham

Ashley straal selfvertroue uit en is nie net ’n voorbeeld van iemand wat besig is om die wêreld se idee oor skoonheid te verander nie, sy is ook ’n groot voorstander daarvan dat jy jouself liefhet nes jy is.

Fluvia Lacerda: ‘Herdefinieer skoonheid’

Fluvia is ’n Brasiliaanse plusgroot model wat soos Ashley haar sosiale media gebruik om mense se idees te verander. Mooi beteken nie maer nie! Sy sê in ’n onderhoud met die Duitse tydskrif Der Spiegel: “Die skoonheidsideaal is vir lank deur die ‘ou media’ gedefinieer, maar dit werk nie vir my nie. My loopbaan is bewys daarvan. Sosiale media het alles verander.”

“Vroue het nou ons eie platform waarop ons self kan besluit wat skoonheid is”

- Fluvia Lacerda

 

Al hoe meer bekendes begin nou reageer op mense wat negatiewe aanmerkings oor hul lywe maak, van Selena Gomez, Amy Schumer, Ariel Winter, Mellisa McCarthy en Lena Dunham – om maar net ’n paar te noem! Ons het nou lank genoeg stilgebly, nou is die tyd om “nee” te sê vir body shaming.

KYK: Ashley se TED-praatjie