Ivan en Donnalee op die stel van Pad na jou hart

Ivan en Donnalee op die stel van Pad na jou hart

Het jy gehoor?

EKSKLUSIEF: Agter die skerms by die nuwe Afrikaanse fliek ‘Pad na jou hart’

Die nuwe Afrikaanse romantiese avontuur wat volgende jaar vir Valentynsdag bekendgestel word, Pad na jou hart, is nie net enige fliek nie. Die vervaardiging van die rolprent is ’n storie op sy eie! Loer hier na wat agter die skerms by dié opwindende film gebeur het.

Die skrywers van Pad na jou hart, die 7de Laan-akteurs Ivan Botha (Pieter) en Donnalee Roberts (Annelie), wou nog altyd ’n fliek maak wat mense roer. “Ons wou ’n storie vertel wat mense op die punt van hulle stoel laat sit, ’n storie wat jou laat lag, huil en weer in die liefde laat glo. ’n Storie wat jou weer laat besef waaroor die lewe regtig gaan!” vertel hulle.

En Pad na jou hart noem hulle die “droomstorie” waarna hulle op soek was. Ivan en Donnalee hulle het nie net die pen in die hand gehad nie. Hulle vertolk ook die twee hoofkarakters in die film. Loer agter die skerms waar hulle SA platgereis het vir 5 weke terwyl hulle geskiet het.

Agter die skerms by Pad na jou hart

Die karakters

Omdat Ivan en Donnalee gesoute akteurs is, wou hulle in hul eie projek interessante karakters skep en komplekse rolle vertolk.

Pad na jou hartIvan speel Basson van Rensburg Jnr. wat in ’n wêreld bly waar alles blink en nuut is – blink sportmotors, die beste pakke, die jongste tegnologie. Díe drang na aardse besittings is ook die rede dat hy die familiebesigheid se sukses dryf, ten koste van die werkers wat al vir jare by die maatskappy is.

Amory (Donnalee) is ’n boheemse, vrydenkende meisie wat elke oomblik van die lewe waardeer. Waar Basson in die gejaag van die stad leef, is Amory nostalgies. Sy is byvoorbeeld mal oor haar 1968 Ford Anglia en reis met dié ou kar deur die land op soek na avontuur.

Pad na jou hart

Iets gebeur wat die twee uiteenlopende karakters se paaie laat kruis en dan reis hulle in Amory se ou kar regoor SA. “Ons wou hê Suid-Afrika moes ook as ‘karakter’ in die film optree.” Die landskap voeg dan ook ’n simboliese betekenis by die boodskap van die film, byvoorbeeld hulle is in die dorre Karoo wanneer hulle pretensies val.

Die draaiboek

Die skryfproses was ’n jaar lange projek wat hulle tussendeur hul 7de Laan-tonele geskryf het. Al was dit harde werk, sê dié twee dit was ’n wonderlike ervaring. “Ons kon ons karakters se diepste diep leer ken en die storie haarfyn en simbolies uitlê.”

 

François Bloemhof het die draaiboek van Pad na jou hart in ’n roman verwerk en dít is deur NB-uitgewers gepubliseer – lees meer oor dié boek HIER.

Ivan en Donnalee is ook medevervaardigers van die fliek en moes gereeld ook aan die geldelike kwessies aandag gee. Danie Bester is hoofvervaardiger en Jaco Smit sit op die regisseurstoel.

 

 

 

Leer meer oor Pad na jou hart

Webwerf: www.padnajouhartfilm.co.za
Facebook: https://www.facebook.com/PadNaJouHart
Twitter: @Padnajouhart

En gebruik #14Feb2014 en #vindjouwarenoord om saam te gesels!