FOTO Du Wayne Photography

FOTO Du Wayne Photography

Het jy gehoor?

EKSKLUSIEF: Ilzé Saunders se groot dag

’n Hele naweek kon die beeldskone Ilzé Saunders en Dewald Buys hul huwelik in Sun City vier. Nou begin hul eerste avontuur saam as meneer en mevrou Buys: ’n wittebrood op die Bahamas en dan in New York.

Op Vrydag 3 Februarie het die voormalige Mej. Aarde, geklee in ’n pragtige Anel Botha-skepping, in die paadjie afgestap na haar geliefde Dewald toe. Die talentvolle Refentse het met sy diep fluweelstem die treffer “Sonvanger” gesing.

Vir Ilzé was dit belangrik dat haar pa hierdie oomblik met haar sou deel.

“Om in daardie paadjie af te stap is nie net vir my spesiaal nie, maar ook vir my pa. Hy moet sy dogter weggee en dis ’n ongelooflike oomblik,” het sy vooraf aan SARIE.com gesê.

Die paartjie het by Boabab Outlook in die Sonpaleis se tuin ewige trou aan mekaar beloof voor 200 gaste wat die spesiale geleentheid saam met hulle kom vier het.

Ilzé en Dewald het talle trouplekke besoek, maar op die ou einde besluit Sun City sou die beste agtergrond vir hul groot dag skep. En dit het ook perfek ingepas by hul kleurskema van wit met ’n tikkie goud.

“Om die troue te beplan was ongelooflik lekker gewees. Ek het dit só geniet, want events reël is deel van my lewe. Dis tweede natuur. Maar wat alles nóg makliker gemaak het, was Dewald. Hy was deel van elke liewe proses.”

Ná die seremonie is die gaste met ’n straatmarkie bederf waar hulle verskillende soorte kos kon eet en drankies geniet. Die gaste het tot paspoorte ontvang, waarin hulle stempels deur die loop van die aand ontvang het!

Dit was vir die paartjie belangrik dat die gaste elke oomblik geniet. Daarom het hulle besluit om hul troue oor twee dae te hou.

“Ek en Dewald sien elke geleentheid in ons lewe as ’n reis en ons troue is ons grootste avontuur nóg. Dit is ook hoekom ons dit die hele naweek hou om die reis saam ons familie en vriende te geniet.”

Die onthaal het in The Palace plaasgevind. En hul troukoek? Dit het uit talle koeklollies met ’n kaaskoekvulsel bestaan.

Maar dis nie al nie! Ná die onthaal is die gaste om 23:00 geneem na ’n plaaslike sjebien waar hulle met shooter-drankies verwelkom is. Die gaste het toe ’n tweede keer partytjieskoene aangetrek.

Die res van die naweek het Ilzé en Dewald saam met hul gaste die pragtige omgewing geniet totdat die twee Sondag hul tasse moes pak vir die wittebrood.

Nóg foto’s van Ilzé en Dewald se groot dag:

Die paartjie wil graag die volgende verskaffers bedank:

Trourok: Anel Botha Couture

Velsorg en pamperlang: Sprout Aesthetics

Bykomstighede: JCClick aanlyn

Die bruid en strooimeisies se blomme: Bride in Bloom

Kaartjies en ander papierontwerpe: Studio Stationery & Design

Fotograaf: Du Wayne Photography

Videograaf: Bravo & Thatcher

Hare en grimering: Angelic Allure

Dekor: Decor-D-Zign

Musiek en beligting: MSM Productions

Nagereg: Ice Cream Ninjas

Kunstenaar: Refentse

Venue: Sun City

Baie geluk, Ilzé en Dewald!

Die troue word eersdags op Top Billing uitgesaai.

Lees nou

Hoe lank staan jy voor jou grimeerspieël? Spaar só tyd!

Ma Candice Swanepoel spog met Anacã

Van kerrie tot koftas, Herman kook met volstruis