Het jy gehoor?

EKSKLUSIEF: Simoné Nortmann verlaat ‘7de Laan’

Ons het vir Simoné Nortmann as die skooldogter Nadia Croukamp in 7de Laan ontmoet. Twee en ’n half jaar later kan jy amper nie dié sepie sonder haar voorstel nie, maar nou is dit tyd vir haar om haar vlerke te sprei. Sy gesels eksklusief met SARIE.com oor hierdie groot stap én haar toekomsplanne.

Simoné het direk ná sy haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het by 7de Laan begin werk. “Ek was baie gelukkig om dadelik ’n vaste werk te kry en dit boonop by 7de Laan,” vertel sy. “Ek kon nie vir ’n beter leerskool vra nie, dit was ideaal vir daardie tydperk van my loopbaan.”

Die rol van Nadia het vir haar in 2014 die toekenning van Beste Nuweling by die Royalty Soapie Awards losgeslaan. Maar soos in enige werk is daar ook uitdagings. “Ek het al daarmee vrede gemaak dat ek vir sommige lede van die publiek altyd ‘Nadia’ sal wees.”

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Die besluit om te bedank was nie ’n maklike een nie. “Ek het tyd nodig om te reflekteer en my horisonne te verbreed. Ek is nog baie jonk en wil ander moontlikhede as aktrise verken,” vertel dié 25-jarige opreg. Dit is juis hierdie opregte eienskap wat haar vir kykers toeganklik maak.

Sy is nie net op die kassie ’n inspirasie nie. Simoné het die afgelope twee maande ná sy by 7de Laan weg is, as vrywilliger in Mosambiek onder die armste van armes in dié land gaan sendingwerk doen by die Iris Global Mission School.

“Jy woon tussen die mense van die gemeenskap en help hulle waar jy kan.” Sy het voor die uitreik vir opleiding gegaan saam met ander sendelinge van die hele wêreld oor. (Kyk na haar foto-album onder dié artikel.)

Wanneer sy terugkom wil sy haar horisonne verbreed. “Ek sal weer vir oudisies gaan en vryskutwerk doen. Ek wil ook ’n boek skryf.” Een van haar drome is om haarself as filmaktrise te vestig.

Sy het haar kêrel, Andries Pretorius, in SA agtergelaat met haar vertrek na Mosambiek. “Die langafstandverhouding is ’n goeie toets. Soms is dit goed om bietjie te verlang,” lag sy. Sy en Andries, ’n rekenkundige van Pretoria, ken mekaar al 4 jaar. “As ek terug is, kan ek en hy oor die toekoms gesels.”

FOTO: Instagram @simonenortmnn

FOTO: Instagram @simonenortmnn

Tog sal Nadia haar altyd na aan die hart bly. “Ek voel dit is tyd om vir Nadia bietjie te laat asemhaal.”

Die laaste episode van 7de Laan waarin Simoné te sien is, sal op 7 Augustus 2015 uitgesaai word.

Blaai deur haar foto-album van Mosambiek

Lees ook

  • Rita Laskey

    Simoné het al die eienskappe om suksesvol te wees in alles wat sy aanpak…Sy was skitterend in 7de laan en ons gaan haar mis, maar sy wil ook verder groei en haar horisonne verbreed. Sy is iemand wat bewys het dat sy omgee vir baie minder bevoorregtes en ook dat sy haar Christenskap voluit leef.