Het jy gehoor?

Elana Meyer en Francois Pienaar gesels oor die Kaapstad-marathon

 In die Moederstad loop die opwinding hoog vir die eerste Sanlam Kaapstad-marathon wat Sondag 21 September 2014 plaasvind. Ons het met die ambassadeurs van dié geleentheid, Elana Meyer en Francois Pienaar, hieroor gesels.

Dié 42,2 km lange wedloop word deur die Stad Kaapstad, Westelike Provinsie Atletiek en Asem Running georganiseer. SARIE-joernalis Marguerite van Wyk het met die voormalige Olimpiese medaljewenner Elana Meyer en oud-Springbok Francois Pienaar, wat die marathon onderskryf, gesels oor dié marathon wat hulle as een van die groot marathonne in die wêreld wil vestig.

Elana Meyer

Elana hardloop deesdae nie meer kompeterend nie, maar eerder vir die lekkerte en die energie, vertel dié ma van twee, Christopher (6) en Ené (4)

elana meyer

FOTO: Twitter @elanameyer

Vroue is soms beter marathon-atlete as hulle eers ouer is. Hoekom, dink jy, is dit so?

Ek het Kilimandjaro so 7 – 8 jaar gelede geklim, toe ek al in my 40’s was. Die hoogste suksessyfer met die klim van Kilimandjaro is onder vroue in hul 40’s. Die hoogste mislukkingskoers is mans in hul 20’s. Ek dink ’n jong, energieke en sterk man sal te vinnig begin, terwyl ’n vrou in haar 40’s weet:

life is a marathon and not a sprint.

Ondervinding leer jou jy dat as jy ’n uithouwedloop (endurance race) aanpak, jy nie te vinnig kan begin nie. Juis daarom is vroue in hul 30’s en 40’s goeie uithou-atlete.

Hardloop jou kinders saam met jou?

Hulle is nog bietjie jonk, maar geniet dit om buite te wees. Christoper het pas sy eerste rugbywedstryd gespeel en dit geniet. Hulle is nog te jonk om in enige sport gedruk te word. My wens vir hulle is ’n gesonde lewenstyl, waarvan oefening een van die komponente is.

Hoe gereeld oefen jy?

Oefening is steeds deel van my lewe. Dis soos tandeborsel en ek gaan verkieslik nie ’n dag daarsonder nie. Dis steeds vir my belangrik – gee vir my energie, maak my kop skoon, hou my gesond. En dis die redes waarom ek dit steeds doen.

Francois Pienaar

(hooffoto)

Jy en Nerine, jou vrou, het al aan ’n marathon deelgeneem. Hoe was dié ervaring vir jou?

Ons het in 2001 aan die Londense marathon deelgeneem vir CHOP [’n liefdadigheidsorganisasie vir kinders met kanker]. Dit was nie so maklik soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Gelukkig, as jy ’n marathon vir iemand anders hardloop, kan jy nie ophou nie. Jy moet aanhou tot die eindstreep.

Gaan jy en jou seuns, Jean (16) en Stefan (15), aan die Kaapstad-marathon deelneem?

Ons gaan net die 10 km hardloop, omdat ek ’n besering opgedoen het. Enigiemand wat hou van hardloop, sal graag ’n marathon in ’n wêreldstad soos Kaapstad wil hardloop. Ek wil dan volgende jaar die Kaapstad-marathon voltooi.

Laat geslaap?

As jy die sluitingsdatum vir die inskrywings gemis het, kan jy steeds aan sekere roetes deelneem. Jy kan nog 19 September en 20 September by die Sanlam Kaapstad-marathon se ekspo by die Groenpunt-stadion in Kaapstad inskryf. Kry meer inligting hier.
VIDEO