FOTO:  Nieu Photography

FOTO: Nieu Photography

Het jy gehoor?

Elma Postma speel ‘ma’

“Dit is een van die lekkerste projekte waaraan ek nóg gewerk het!”

Aan die woord is die aktrise Elma Postma oor haar rol as Ellie, die vrou van Juan (vertolk deur die akteur Greg Kriek) in ’n Man soos my pa. (Dit word in November vanjaar uitgereik.) “Ons keer ná twintig jaar in Engeland terug huis toe om die verlede in die oë te kyk  …”

Dis ’n mooi storie … die tema van die rolprent verken die verhouding tussen pa en seun.  “Daar is dikwels fases in die lewe, soos die fliek wys, dinge wat gebeur het wat jy dalk moet vergewe sodat jy kan aanbeweeg en hopelik in die proses kan uitvind wie jy regtig is,” verduidelik Elma.

“Ons het vyf dae gelede begin skiet en ek weet al klaar dit is ’n baie spesiale projek. Sean Else, die regisseur, se visie is baie duidelik en ek respekteer hom vir sy duidelike leiding. Ek kon amper nie glo toe ek die rol gekry het nie. Dit is fantasties. Die karakter het met my gepráát. ’n Sterk vrou, dog sag, wat self ’n intense reis moes ondergaan om vrede te vind.”

Elma is baie beïndruk deur die positiewe energie op stel. “Almal glo in die storie en wíl dit vertel.” Sy voel bevoorreg om aan tonele met groot name in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf soos Sandra Prinsloo, Albert Maritz en Grek Kriek te werk. Ander spelers wat hierin speel is onder andere Neels van Jaarsveld, Antoinette Louw, Viljé Maritz en Lara de Bruijn. “Dit is ’n lieflike rolverdeling. Ek voel veilig met die akteurs en regisseur en drink elke oomblik in en leer soveel ek ken. Ek kan nie wag vir elke dag se tonele nie. Soms skiet ons tot ná middernag.”

Wanneer sy klaar geskiet is aan dié rolprent en weer terugkeer na Gauteng, speel sy in die komedie Jou gat my skat geskryf en vervaardig deur Barry van Rensburg en die regie is deur Elizma Badenhorst . “Ek speel die ‘hardegat-vrou’ teenoor Cobus Venter, die ‘slapgat-man’. Ons het saam geswot op Tukkies en dit is so lekker om professioneel saam te werk. Dit is ’n móét-sien vir getroudes wat deur die oppe en affe van ’n huwelik probeer staande bly of vir dié wat die getroude lewe oorweeg …”

Elma is op ’n goeie plek in haar lewe, in ’n gelukkige verhouding, wat sy nie wil bespreek nie …

“Maar ek praat graag oor al my werk. Trousseau, ’n eenvroustuk gegrond op sketse van Ilne Fourie, is gewild op vroue-oggende. Dit gaan oor die gebroke verhouding tussen ’n dogter en haar oorlede ma. Dit is, net soos ’n Man soos my pa, ’n universele storie waarby baie mense kan aanklank vind omdat hulle dalk self daardeur is. Daar is altyd hoop dat – as die waarheid uitkom – jy die regte perspektief sal kry.”

En hoe ontspan sy? “Die natuur, ’n berg, bome en ’n knetterende braaivleisvuur maak my rustig. Ek hou daarvan om die aarde te voel en te ruik.”

Lees nou

Lus om te lag?

Enkellopend-wees is glad nie lekker nie – dis dan baie moeilik om met jouself vas te dans! Bouwer Bosch en Bennie Fourie het Bobby en Karlien van Jaarsveld se lirieke gebruik om te kyk of hulle meisies kan beïndruk.

Kyk hierdie lekker-lag-video!