AUGustus aug elma smit
Het jy gehoor?

Elma Smit: Van top-stories tot top-model, alles in een dag

Met alles wat sy gedoen kry, sal jy byna sweer dat daar meer as 24 uur in Elma Smit se dae is. So het sy gister nie net Netwerk24 se aanlyn-nuusprogram, #topstories, aangebied nie, maar ook haar lyf model gehou vir Gert-Johan Coetzee. 

Jy wil ingelig wees, maar het nie tyd om ure lank relevante stories te soek en lees nie? Dan, sê Elma, is #topstories, wat dié maand afgeskop het, net vir jou: “Daar gebeur so baie dinge elke dag. Ons bied jou ’n toeganklike aanlyn-platform, waar jy kortliks die belangrikste stories kan kry. In vyf minute gee ons jou die hooftrekke in ’n neutedop, daarna kan jy ons artikels lees vir meer detail.”

Die beeldskone bruinkop, wat regte geswot het aan die Universiteit Stellenbosch, wys dat sy meer as net ’n mooi gesiggie op kamera is: “Ja, ek is die #topstories-aanbieder en voer onderhoude, maar ek is ook medevervaardiger van die program.”

#topstories is Elma se dag nog ver van verby. Saam met ander bekendes (soos Melinda Bam) was sy gisteraand een van Gert-Johan Coetzee se hoëprofiel-modelle. Gert-Johan, een van ons land se voorste ontwerpers, het sy Lente/Somer 2015-reeks by die SA Modeweek bekend gestel.

Gister was nie die langbeen se debuut op die loopplank nie, maar sy was “opgewonde” en “senuweeagtig”: “Ek het dit al voorheen gedoen. Die skoene was ongemaklik en ek het byna op my gesig geval.”

“Alle oë is op jou. Dit is altyd ’n lekker rush. Dit is soos performance art. Alles is gou verby. Dit is eintlik so hartseer. Ure se moeite en werk word ingesit,” voeg sy by.

Elma is gaande oor Gert-Johan Coetzee  se werk en sê dat ’n diverse groep vroue met sy klere kan identifiseer: “Hy vier vroue met boude en kurwes. Hy sien ons as meer as net klerehangers. Talle Europese ontwerpers is behep met androginie, maar Gert soek vroue met regte lywe.”

FOTO: Facebook   Elma Smit

FOTO: Facebook
Elma Smit

Sy is mal oor die wit, tydlose voorkoms waarin sy op die loopplank gekiek is en lewer kommentaar oor die toeganklikheid van ontwerpersklere: “Gert-Johan se reeks is beskikbaar in winkels en op Spree. Dit is goed om plaaslike aanlynwinkels te ondersteun.”

Elma is ’n raakvatter, maar sy skroom nie om te sê dat daar “baie” is wat sy nie kan doen nie: “My man, Richard Maspero, kook. Ek hou glad nie daarvan nie.”

Die paartjie, wat in Maart 2011 getrou het, vier vandag hul vierde huweliksherdenking: “Ek is getroud met my beste vriend, steunpilaar, gunsteling-kok en sielsgenoot,” het Elma via sosiale media gedeel.

Ek en Richard (haar man) op ons troudag, 19 Maart 2011

Elma en Richard op hul troudag, 19 Maart 2011

Lees ook

Die 5 goed wat jy (dalk) nie van Elma Smit geweet het nie

Dagbreek se Elma deel haar reisfoto’s en -wenke

Galery: Elma Smit se ski-vakansie