FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

Eloïse Cupido se eerste CD sien die lig

Dis die afgelope drie jaar stuk-stuk in die ateljee van die Pretoriase musiekvervaardiger Johan Kelber opgeneem.

Toe ek die laaste keer in April 2005 Belboks op SABC2 aangebied het, het ek al geweet ek wil self sing, maar ek het nooit so ver gekom nie. Nou slaan dit my asem weg om al die liedjies te hoor. Ek is terselfdertyd opgewonde en skrikkerig om dit met die publiek te deel. Dis asof my musiek my káál laat staan voor die mensdom.

Op dertig het ek besef ek moet dinge doen wat my gelukkig maak. Tyd stap aan, ek kan nie wag dat ander vir my werk skep nie. My CD was dus ’n selfsugtige projek, maar ek moes dit doen om iets aan myself te bewys.

Musiek maak my gelukkig. Dit gaan by jou ore in, beweeg verby die kop en gaan dan reguit na die hart. In elke liedjie op die CD is daar ’n stukkie van my siel. Die titel verwys na my, ’n girl van Montagu in die Klein-Karoo. Ek het die afgelope drie jaar hard gewerk aan dié CD en alles self gedoen, selfs die vervaardiging. Dis moeilik om die kreatiewe en die geldelike deel van só ’n projek te behartig. Ek wou dit binne ’n paar maande afhandel, maar ek moes myself vergewe dat dit toe langer as drie jaar geduur het. Ek het goeie mentors gehad – mense met baie tegniese kennis – en ek moes my trots in my sak steek en raad vra. Baie mense het gedink ek sou dit nie doen nie en ek moes hulle verkeerd bewys.

As jy iets nuuts aanpak, is daar altyd ook maar ’n bietjie vrees. Nóú brand ek om op die verhoog te sing. Dis mos direkte energie, byna soos ’n dwelmmiddel.Teen die einde van die jaar wil ek ook landwyd toer met my CD. En ek is besig om my eie produksiemaatskappy onder my naam te stig, wat hopelik teen die einde van die jaar op die been sal wees. Ek wil potensiële TV- en teater-produksies vervaardig.”