Elon Musk Time
Het jy gehoor?

Elon Musk: 5 dinge wat jy móét weet

Die SA gebore miljardêr Elon Musk (44) kan teen 2024 mense Mars toe stuur. Sy ruimtemaatskappy SpaceX is selfs deur NASA aangewys om in die toekoms hul ruimtevaarders te vervoer. En oor vyf jaar wil Elon glo self die ruimte besoek, berig Financial Preview.

SpaceX is in 2002 gestig. En op 8 Desember 2010 het hul ruimtetuig The Dragon om die aarde gewentel. Dit was die eerste private tuig wat teruggekom het aarde toe, berig Die Burger.

Lees die volledige storie oor SpaceX op Netwerk24.

In 2013 is Elon Musk aangewys as een van Time se 100 invloedrykste individue. Sy pa is ’n Suid-Afrikaner en sy ma, Maye, is ’n Kanadees. En op 68 het Maye ’n gesogte modelkontrak onderteken. As gebore Pretorianer wat aan Pretoria Boys High School gematrikuleer het, is Elon beslis ’n trotse “SA uitvoerproduk”.

Hier’s 5 dinge wat jy nie van hom geweet het nie

1. Elon het sy eerste rekenaar as kind gekry en homself leer programmeer. Op 12 het hy sy eerste kommersiële sagteware verkoop vir ongeveer $500 (sowat R7 463).

2. Hy het aan universiteite in Kanada en in Amerika gestudeer in onder meer ekonomie en fisika. Hy het begin met ’n doktorsgraad in fisika en wetenskap aan die Universiteit van Stanford, maar dit nooit voltooi nie.

3. Elon is die inspirasie vir die akteur Robert Downey Jr. se vertolking van die Marvel-karakter Tony Stark. Robert het die eerste Iron Man-regisseur, Jon Favreau, oorreed om met Elon te praat. Ná die afspraak het Jon geweet Elon is die inspirasie vir Tony.

4. As kind het hy tot 5 ure ’n dag gelees. Sy kamer was vol met strokiesboeke en boeke deur die skrywer J.R.R. Tolkien. Hy is dikwels op skool geboelie.

5. Hy was drie keer getroud, een keer met Justine Wilson (2000-2008) en twee keer met die Britse aktrise Talulah Riley (2010-2012 en 2013-2016). Elon en Talulah is wéér aan’t skei. Hy het 5 seuns by sy eerste vrou.

Elon het drie gebiede geïdentifiseer waarop hy wil fokus om die belangrikste probleme van die mensdom op te los: die internet, skoon energie en die ruimte.

Wie weet, dalk los hy al drie probleme op teen 2024?

Bronne: Entrepreneur, The New York TimesCanada.com

Lees nou

Mars en Aarde naaste aan mekaar in 11 jaar

FOTO’S: So lyk Afrika uit die ruimte!