FOTO Phyllis Green

FOTO Phyllis Green

Het jy gehoor?

Elvis Blue: Op reis vir musiek

Hy wou SA stories en kiekies bymekaar maak vir nuwe musiekprojekte. Toe vertrek Elvis op ’n agt dae lange road trip van Suid tot Noord … en SARIE het ’n eksklusiewe kykie gekry. 

Vir Elvis Blue was dit ’n éérste – ’n kreatiewe road trip, van Bloubergstrand in die Kaap tot Heidelberg in Gauteng.

In ’n Bobo-woonbussie het hy en sy span materiaal gaan soek om die land se hartsnare te roer. “Ek wou impulsief saam met kinders balskop, ’n mooi sonsondergang geniet, branderplankry … ”

Uiteindelik sou al die beelde lei tot ’n nuwe CD, ’n multimedia-produksie én ’n
musiekvideo, Shine. Lg. is einde Januarie uitgereik. Die CD, wat nog ’n titel moet kry, word by die KKNK bekend gestel en sy nuwe produksie, Horison, wat hy en die musikale regisseur Deon Opperman saam doen, word ook daar aangebied.

Op dag twee van die reis, ná ’n warm dag op Hermanus, gesels ons met Elvis oor ’n glasie koue witwyn. Aanhangers wat deurgaans kom hallo sê, behandel hy
soos ’n ware heer.

M-Net se Idols-wenner van 2010 is vandag nog net so nederig soos destyds toe hy as Jan Hoogendyk begin sing het. Sedertdien het hy al vragte musiekpryse, waaronder talle SAMA’s en twee Ghoemas, ingeoes. Maar hy maak steeds tyd vir elkeen wat hy teëkom.

Duane Brown, verantwoordelik vir klank en logistiek, vertel: “Dis die nice ding van Elvis. Of dit nou kinders of ouer mense is, hy gesels graag met hulle.”

Duane was saam met die fotograwe Sheldon Evans en Calvin Dunn (assistent) Elvis se reismetgeselle. Die sanger het dié twee op die sosiale netwerk Instagram “ontdek”. Hy vertel hulle het vir hom “jonk en vreesloos” gelyk.

Vir Elvis was hierdie agt dae inspirerend, terwyl Duane dit as “een groot vakansie” beskryf. “Elvis is aanpasbaar, elke dag is vloeibaar. Een aand om halfagt, die ‘magiese goue uur’, het ons hom op Kleinmond met sy kitaar in goudgebaaide lig op die rotse
afgeneem. Die resultate was ongelooflik.”

Elvis is kreatief gestimuleer deur dié reis. En hy wéét wat hy doen. Sy CD-verkope
staan op 152 750. Boonop is hy die eerste Afrikaanse sanger wie se musiek op iTunes verkoop word, en altyd is hy op soek na ’n nuwe uitdaging.

Horison bevestig dit. “Dit is so ’n gelaaide woord,” sê Elvis, turend na die horison in Hermanus. “Dit verwys na die toekoms, hoop, saamsnoer van idees, soveel emosies … ”

Met dié road trip het hy inderdaad ook nuwe horisonne oorgesteek.

Balskop met kinders

Van Hermanus deur Gansbaai na Bredasdorp…

Elvis: “Daar sien ek kinders met ’n bal en springtou. Ék vaar beter met die bal!”

“Elvis het sokker en rugby met die kiddies in die gemeenskap gespeel en vir elkeen ’n KitKat en sommer ’n sokkerbal gekoop om dankie te sê,” sê Duane.

Elvis onthou dit is hier waar Anene Booysen in 2013 grusaam verkrag is. “Sy sou eens ook so gespeel het… Wonderlik om glimlaggies te sien waar soveel hartseer was. Ek het weer besef daar is baie kinders met ‘all the odds against them’.”

FOTO: Sheldon Evans

FOTO: Calvin Dunn

Jong Xhosa-seuns 

Elvis: “Vroegoggend is my ouers saam na Nieu-Bethesda – ’n lekker uitstappie. Op pad terug sien ons jong Xhosa-seuns met wit gepleisterde gesigte. Ek moes gesels … Dit
bly fassinerend. Elke kultuur het sy manier om van ’n seun ’n man te maak.”

FOTO: Sheldon Evans

FOTO: Sheldon Evans

“Hoe sluit die son die hemel oop”

Elvis ry graag branderplank naby sy huis op Victoriabaai, waar hulle ook ’n draai gemaak het. Dit is diep in sy hart. “Lucas Maree sing mos ‘Hoe sluit die son die hemel oop?’”

Die pad loop van daar na Oudtshoorn, deur Meiringspoort in die Klein-Karoo en met die grondpad na Willowmore. “Met ’n familie op ’n donkiekar, wat daar op ’n plaas in die omgewing werk, het ons lekker gebond,” vertel Duane.

Deur die Vallei van Verlatenheid en ’n asemrowende sonsondergang vat die pad hulle na Graaff-Reinet vir aandete by Elvis se ouers, ds. Piet en Milla Venter.

FOTO: Sheldon Evans

FOTO: Sheldon Evans

Dié inligting kom uit die artikel “Kuur vir jou foon-tamheid” in ons Maart 2015-uitgawe. Die uitgawe is nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal afgelaaiword om op jou rekenaar, tablet of slimfoon te lees – klik HIER.

Lees ook