FOTO Phyllis Green

Het jy gehoor?

Elvis Blue se goeie nuus!

Elvis Blue se album Afrikaans verwerf platinumstatus!

2014 is ’n goeie jaar vir dié pa van twee, liedjieskrywer en sanger, Elvis Blue.

Elvis, wie se twee dogtertjies, Jua en Lila, net te pragtig is, se treffer-album Afrikaans het pas platinumstatus verwerf en dit is sommer ’n baie groot eer vir dié talentvolle liedjieskrywer-sanger. Afrikaans is ook reeds met verskeie gesogte pryse bekroon. In April is die album met ’n SAMA-prys vir die Beste Kontemporêre Album by die glansryke SAMA-toekennings in Sun City bekroon.

Elvis is ook op 13 April in Carnival City met 2 Ghoema-toekennings bekroon vir Afrikaans – vir Beste Manlike Kunstenaar sowel as Album van die Jaar.

Elvis sê: “Ons almal het drome in die lewe. Daar is min dinge lekkerder as wanneer jy jou drome sien waar word. Toe ek hierdie album begin skryf het, was dit my droom dat mense die album sou hoor.”

Lila Hoogendyk (Jua se ouer sussie)

Lila Hoogendyk (Jua se ouer sussie)

Elvis vertel Afrikaans lê hom besonder na aan die hart. “As jong seun het ons die mooiste Afrikaanse musiek in ons huis gehad. Dit was musiek wat diep tot my gespreek het en wat ek nooit sal vergeet nie …”

“Wanneer ek in Afrikaans sing en skryf, doen ek dit vir die mense naby my, soos my ma, my vrou, my kinders… Ek druk myself net beter in my moedertaal uit en Afrikaans is boonop so ’n mooi taal!”

Elf van die liedjies op Afrikaans is oorspronklik en kom uit Elvis se pen. Van die liedjies op die bekroonde album, soos “Rede om te glo” en “Spore”, het reeds uitkloptreffers geword en word gereeld oor die radio gespeel. So ook die nuwe treffer “Toe ons jonk was”.

Chireze met Jua, wat siek was op haar verjaarsdag vroeër vanjaar

Chireze met Jua, wat siek was op haar verjaarsdag vroeër vanjaar

Elvis is reeds kliphard besig om aan ’n volgende album te werk en volgens beplanning gaan die album ook in Afrikaans opgeneem word.

Luister hier na Elvis se “Rede om te glo”: