FOTO: Harper's Bazaar

Het jy gehoor?

En die Oscar gaan aan … ’n stem?

Vir die eerste keer in die geskiedenis kan ’n Oscar vir toneelspel toegeken word aan iemand wat nie eens in lewende lywe in die fliek te sien is nie.

Die aktrise Scarlett Johansson verskyn nie een keer in die nuwe futuristiese fliek Her nie, maar kenners meen dat sy ’n Oscar vir haar vertoning kan ontvang. Scarlett vertolk die stem van Theodore (Joaquin Phoenix) se rekenaar-sisteem, Samantha, waarop hy verlief raak.

“Scarlett kry iets reg wat moeilik is. Sy skep ’n komplekse en volwaardige karakter sonder om haar liggaam te gebruik. Sonder haar lyf is haar rasperige stem steeds verleidelik en sy laat ’n masjien die verwondering van menslike gebeure ervaar,” skryf die filmresensent Scott Foundas in Variety.

Rolle waar die akteur nie self in die film verskyn nie, word gewoonlik geïgnoreer deur die Oscar-paneel, soos byvoorbeeld Andy Serkins wat Gollum in Lord of the Rings gespeel het. Scarlett se situasie is egter anders, omdat sy nie deur enige tegnologie bygestaan word nie. Dit sal interessant wees om te sien of Scarlett wel in aanmerking kom vir dié merkwaardige toekenning.

Kyk hier na die lokprent van Her

Bron: Huffington Post