Het jy gehoor?

Erfsondes hou partytjie

Die eerste reeks – met sy heruitsending nou weer op SABC2 – was ‘n treffer. En pas het die Erfsondes-span klaar verfilm aan die tweede reeks. Dit begin op Dinsdag, 14 April om 19:30. Maak jou reg vir hope nuwe kinkels! Die skrywer, Henriëtta Gryffenberg, het spesiaal vir SARIE ‘n kykie agter die skerms gegee. Sy het self die foto’s geneem op die wrap-partytjie wat die span gehou het ná die laaste toneel geskiet is. Hier lewer sy sommer kommentaar op elke foto.

 

Jo da Silva en Kevin Smith Rosa Keet en Catriona Andrew
Jo da Silva en Kevin Smith. Jo maak ’n gas-verskyning in Episode 3 en Kevin speel Hotwire, ’n kort-van-draad kroek wat met almal skoorsoek. Kevin was FANTASTIES en ek was spyt dat Hotwire moes sterf. Ons opdraggewende redakteur, Rosa Keet, en Catriona Andrew (Samantha Spencer). Sjoe, Catriona word vir my al hoe mooier soos sy ouer word. Sy is buitengewoon in die tweede reeks en lewer ’n vertolking wat jou hart laat bloei. In Erfsondes 2 word Sam gekonfronteer met die sondes en dade van die verlede. Rosa het my gementor om die skrywer te word wat ek vandag is en ek hoop van harte ek stel haar nooit, ooit teleur nie. Deur die jare het sy ook my vriendin geword. Sy is ‘n formidabele vrou (dogter van A.D. Keet) en ’n digter en ’n ongelooflike mens en persoon om voor te werk. Dankie, Rosa!
Catriona Andrew en Jana Strydom
Catriona Andrew en Jana Strydom. Jana speel my Kate, die tragiese heldin met die versugting om deel te wees van ’n familie omdat sy as weeskind grootgeword het. Met die tweede reeks was ons dilemma dat Jana intussen in 7de Laan begin speel het. 7de Laan het nie haar look verander nie en ek en sy het sessies deurgesit om te wonder hoe ons haar “anders” gaan laat lyk. Die reguit hare was ’n opsie, maar Bobby (die regisseur) het sy voet neergesit. Jana was eerste op Erfsondes en toe was haar hare krullerig. Ons bly by die krulle. Vir die partytjie ná die verfilming daag Jana toe met die reguit hare op – mens kan haar amper nie herken nie, nè? O ja, ek is steeds bitter oor die feit dat Jana nie vir ’n SAFTA (SA Film and Television Award) benoem is vir haar spel in Erfsondes 1 nie, maar laat ek een ding sê: As hulle haar met die tweede reeks miskyk, gaan ek wragtig stof opskop! Dié vrou kan act. Sy is briljant. Ek saam met Catriona en Jana. Kan ’n mens breër as dit glimlag? Ek is nie mal oor op foto’s wees nie, maar hier is ek saam met my leading ladies. Ek love hulle! 
Bobby (regisseur) en Erika Wessels Bobby, Jacques Bessenger en Lelia Etsebet
Bobby Heany (die regisseur en vervaardiger) en Erika Wessels. Erika is ’n fantastiese verhoogaktrise en sy lewer betowerende spel as die komplekse nuwe vriendin in Kate se lewe. Ricci is oortuig sy is ’n adder aan die boesem, maar julle sal maar moet kyk om te sien of hy nie maar net jaloers is nie. Dankie, Erika – dit was ’n vrek moeilike rol, maar jy het dit reggekry. Sy sal ook in die derde reeks wees. Op die foto is Bobby Heany saam met Jacques Bessenger en Lelia Etsebet. Jacques speel Renier – hy’s ook ’n kroek in Erfsondes 2. In die tweede reeks speel ek ’n bietjie cops en robbers. Die misdadigers was ure se pret en die Renier-karakter is kompleks en gevaarlik. Is hy nie gorgeous nie? Jacques het die ysblouste oë en mooiste lyf en ons wys dit, meisies! So as jy dit misloop, is dit net oor jy nie daar was nie. Lelia lyk vir my nes die Amerikaanse aktrise Jessica Lang – sy is ’n jong maar baie belowende aktrise. Ek werk haar ook beslis in die volgende reeks in. In Erfsondes 2 speel sy Pote (Ian Roberts) se dwelmverslaafde dogter.