FOTO Twitter/ @Ernstvandyk

FOTO Twitter/ @Ernstvandyk

Het jy gehoor?

Ernst kry sy goud!

Hy is gebore sonder bene, maar die Paralimpiese atleet Ernst van Dyk laat hom nie van stryk bring nie – vanjaar het hy vir goud gejaag by sy sewende Paralimpiese Spele en het geseëvier. 

Gister het Ernst het eerste oor die eindstreep in die padwedren vir handfietse (H5-kategorie) gekom!

Rio_SASpan_Social_Ernst

Voor die Paralimpiese Spele het SARIE.com met Ernst van Dyk gepraat. Hier’s die onderhoud.

Ernst het in 1992, in sy prille jeug (hy is nou 43), in Barcelona begin as handfietsryer en marathon-rolstoelryer.

“Niemand neem deel om nié te wen nie, maar dit hang af hóé jy wen. Dit moet waardig wees en gaan nie oor ego nie. Ek wil erkenning gee aan my familie, vriende, kollegas en borge wat my altyd bystaan.”

Twitter Ernst van Dyk lees nou

As gestremde atleet voer hy ’n daaglikse stryd om te bewys gestremdes is nie tweederangse atlete nie.

“Ons oefen net so hard, indien nie harder nie as ander atlete.”

Ernst is baie opgewonde om na Rio te vertrek. Vir hom is elke Spele uniek, maar hy sonder veral Beijing en Londen uit.

“Dinge is nou veral ongelooflik omdat die Paralimpiese Spele so professioneel gehanteer word én dis fantasties. Sport is so interessant, want jy weet nooit wat gaan gebeur nie. Dís wat maak dat mense drieuur soggens opstaan om na ’n resies te kyk. Dit is opwindend.’’

Maar hy glo dis belangrik vir atlete om dit te geniet.

“Dis nie maklik om ure te suffer en af te chop as jy oefen nie. Jy druk jou liggaam na plekke waar ander mense nooit gaan nie. Dit moet jou gelukkig maak.”

Hy oefen 20 tot 24 uur per week tydens drie sessies per dag. “Jou kop moet sterk wees. Ek was gelukkig om vroeg in my lewe goeie sportsielkundiges te hê wat my geleer het om te visualiseer, stres te hanteer en te fokus. Jy moet sielkundig baie sterk wees.’’

Hoewel hy baie trots is op sy Laureus Wêreld-sporttoekenning as Sportmens van die Jaar met ’n Gestremdheid (2006), reken hy toekennings is subjektief. “Die resultate op die veld moet die praatwerk doen.”

Ernst wil nog minstens vyf jaar aan marathons deelneem.Hy behaal immers altyd ’n plek in die top-vyf. As hy nie op die oefenbaan is nie, lewer hy motiveringspraatjies. En met elke praatjie wil hy aan mense vertel enigiets is moontlik, selfs al word jy geen kans op sukses gegun nie.

“Ek vertel my storie en wys jy kan ’n pad stap om iewers uit te kom. Ongeag wat mense vir jou sê, glo in jouself. Jy kan bepaal wat die uitkoms van jou lewe is.’’

Sy vrou, Suzanne, en kinders se ondersteuning is vir hom die lekkerste. “Sunel (4) en Lexi (8) is my grootste fans,’’ lag hy.

Vandag neem hy deel aan die handfiets-padren. En op 18 September sal hy aan die rolstoel-marathon deelneem.

Lees nou

SA vroue bly lief vir lipstiffie – selfs as ekonomie knyp

Fanie toets: Hoe ek voel nou?