450_598_eva
Het jy gehoor?

Eva Longoria het pas ’n kookboek bekend gestel

Dié Desperate Houswives-aktrise deel haar passie vir kos en haar kombuis met al haar aanhangers. En hier is een van die resepte!

Lekker kos en bak en brou is vir haar deel van die lewe. Sy het op ‘n landgoed in Texas grootgeword en daar het haar familie gekook dat dit klap. Baie van die resepte in haar kookboek is deur dié jare geïnspireer.

Vandag is die beeldskone Eva eienaar van Beso, ‘n restaurant in Las Vegas, en nou deel sy haar kosmaakgeheime met jou in die blaaie van Eva’s Kitchen.

Een van haar gunsteling-resepte is die tortilla-sop. Sy vertel vir prevention.com dat haar familie en vriende mal is daaroor en altyd vra wanneer sy dit weer gaan maak. Sy hou veral daarvan as dit lekker geurig en dik is.

Hier is haar guacamole-resep vars uit haar kookboek, Eva’s Kitchen:

“Ek het ‘n paar geheime om my guacamole fantastiese geur en tekstuur te gee,” verklap sy aan prevention.com

Volgens Eva is die belangrikste om suurlemoen pleks van lemmetjie te gebruik. Suurlemoen het ekstra soetheid, wat die geur verbeter. Moet ook nie skaam wees wanneer jy dit gebruik nie! “‘n Ander geheim is om dit nie te veel te roer nie. Sit al die bestanddele in die bak voor jy roer, anders word dit waterig. Die serrano-rissies gee dit ’n bietjie skop en is baie lekkerder as jalapeños. Sit dit saam met tortillas of bo-op steak voor.

Bestanddele:

6 avokado’s, grofgekap

4 middelslag-tamaties, gekap

1 ui, fyngekap

2 t sout

½ koppie gekapte pietersielie

1 serrano-rissie, fyngekap

sap van 4 suurlemoene

* Plaas die avo’s, tamaties, ui, pietersielie, rissie en suurlemoensap in ‘n groot mengbak. Roer versigtig tot alles gemeng is.