Het jy gehoor?

Faith Like Potatoes in Amerika

Die SA fliek Faith Like Potatoes, wat die gewilde prediker Angus Buchan se lewensverhaal vertel, is vandeesweek in Amerika op DVD uitgereik. Sony Pictures Home Entertainment het die wêreldwye regte vir die fliek bekom.

”In SA is al meer as 110 000 DVD’s van die fliek verkoop, wat dit onder die top-3 SA flieks van alle tye plaas wat DVD-verkope betref,” sê Frans Cronjé, vervaardiger. Sover bekend is die ander twee Leon Schuster se Mama Jack en Tsotsi. Frank Rautenbach speel die hoofrol in Faith Like Potatoes en Regardt van den Bergh is die regisseur.

“Dis bemoedigend dat SA flieks huise regoor die wêreld bereik,” sê Frans. “Ons kry baie e-pos van mense wêreldwyd wat Faith Like Potatoes gesien het. Dis ook wonderlik om die reaksie te sien op Angus Buchan en die werk wat hy doen.”

Rich Peluso, ‘n agent by Sony Pictures Home Entertainment, sê: “So baie flieks oor geloof is Amerikaans wat storie, styl en milieu betref . . . Faith Like Potatoes wys hoe God in ‘n verre land werk.”