fanie cronje
Het jy gehoor?

Fanie toets: Drup-behandeling

Verlede week het SARIE.com geskryf oor Karlien van Jaarsveld se drupbehandeling. Sy is glad nie siek of in ’n hospitaal nie. Inteendeel, die Afrikaanse sanger voel soos ’n nuwe mens. Haar geheim? ’n Weeklikse vitamiendrup.

Lees meer oor die vitamiendrup hier.

SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé, het aangebied om dié drup te gaan toets. In Suid-Afrika is vitamiendruppe dalk ’n “nuwe” gier, maar in Hollywood is dit al ou nuus. Bekendes soos Madonna, Cindy Crawford, Gwyneth Paltrow, Rihanna en Cara Delevingne gebruik dit, berig The Australian.

Fanie vertel van sy ervaring:

Ek het besluit om die Phospholipid Exchange Therapy te gaan uittoets. Dis ’n konkoksie van vitamiene en minerale wat met ’n drup in jou liggaam gevoer word. En ek is trots om te sê ek het dit eerstehands ervaar!

My eerste indrukke

Die behandeling word aangebied by FemMed, die Pretoriase kliniek waar Karlien haar behandeling kry. Die sentrum, in Brooklyn, bestaan uit deels dokters se spreekkamers, ’n estetiese kliniek en selfs ’n skoonheidsalon.

Toe ek instap, het ek gedink dit lyk nie soos ’n dokter se spreekkamer óf soos ’n skoonheidsalon nie. Dis klinies soos ʼn spreekkamer, maar nie koud en onpersoonlik nie. Dis oop, skoon, mooi en modern.

Die energie was vars, maar ook kalm. Sonder die reuk van laventelolie of ander lekkerruikgoed wat jy gewoonlik in ʼn spa kry. Tog is daar ’n atmosfeer van kalmte en ontspanning, nes dié in ʼn spa.

Die kliniek fokus spesifiek op vroue en kinders, maak daar is ook ruimte vir mans. Protea-kaptein AB de Villiers se vrou, Danielle, kom hierheen vir behandelings en so het AB ook ʼn aanhanger van die vitamiendrup geword.

Die vertrek het vier beddens, en dit lyk byna soos die plekke waar jy gaan bloed skenk. Die kamer het dieselfde atmosfeer as die ontvangsruimte. Jy gaan lê heel gemaklik en ’n mediese dokter kom spreek jou. Dr. Helene Bosch, wat haar graad op Kovies gekry het, het my behandel.

Só verloop die behandeling

Die drup word met ʼn prik in jou bo-arm gesit en daarna begin die behandeling met ʼn reeks inspuitings wat direk in die drup ingespuit word.

– Die eerste is magnesiumsulfaat wat help om jou bloedsuikervlakke te reguleer. Dit word gevolg deur butiraat wat help met die vernuwing van selmembrane en die verwydering van bio-gifstowwe.

– Dan is dit fosfolipiede, wat essensiële vetsure in die membrane vervang en van die gifstowwe verwyder.

– Vierdens word ʼn foliensuur ingespuit wat help met ernstige bloedsel-siektes.

– Die vyfde inspuiting is ʼn glutatioon, wat belangrik is vir die ontgiftiging van die lewer en die uitskeiding van gal.

– Die behandeling word afgesluit met ʼn hoë dosis vitamiene wat help met energievlakke, die opbou van die immuumisteem, die bekamping van inflammasie, spanningsverligting en wat help om ʼn goeie nagrus te bevorder.

Hoe voel ek?

Die behandeling het 15 minute geduur. Dr. Bosch het aan my verduidelik dat ek waarskynlik moeg gaan wees vir die res van die dag.

En soos ek hier sit en die storie skryf, kan ek my oë nie oophou nie! Ek wens dit was Saterdag, ek smag na ’n middagslapie. Maar teen môre-oggend of Woensdag, op die laatste, behoort ek soos ʼn nuwe mens te voel.

Hoe nou gemaak?

Daar word aanbeveel dat pasiënte aanvanklik vir 4-6 weke een keer ʼn week die drup kry en daarna net elke tweede of derde week.

Ek laat weet julle môre hoe ek voel.

  • Johan

    Great artikel Fanie. Dalk kan jy 5min op navorsing spandeer en vir ons vertel of daar enigstens meer as ‘n placebo effek hier ter sprake is.