fanie cronje
Het jy gehoor?

Fanie toets: Wat het toe gebeur?

SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé, het verlede week aangebied om die vitamiendrup te gaan toets, die einste een wat bekendes soos Karlien van Jaarsveld weekliks kry.

Die behandeling het 15 minute geduur. Daar is aan Fanie verduidelik dat hy waarskynlik moeg gaan wees vir die res van die dag.

’n Dag ná sy behandeling het Fanie soos “die dood self gevoel”. Lees sy ervaring hier.

Dis hoe Fanie ’n week later voel:

Vandag, een week gelede, het ek die vitamiendrup gaan toets.

Ná ʼn baie tawwe Dinsdag en Woensdag het ek daardie Woensdagaand die diepste, lekkerste slaap in ʼn lang tyd geslaap. En ek is ʼn slaper, dis nie een van my probleme nie.

Die ekstra skop wat ek daai aand beleef het, was dus net ʼn ekstra treat. Die volgende oggend was ook die eerste dag in ʼn lang tyd dat ek my oë oopgemaak en dadelik opgestaan het. Niks van die tam moegheid en die hoogs frustrerende nog-net-vyf-minute-snooze-knoppie wat die laaste paar jaar deel van my daaglikse roetine geword het nie.

Die res van die dag het ek goed gevoel. Eintlik het ek baie lekker gevoel! Niks buitensporig of ekstreem nie. Net lekker, kalm en rustig.

So, die vraag van wat my ervaring was met die drup, kan ek eerlik sê, ek dink dit was ʼn baie positiewe ervaring. Sou ek vandag weer een gekry het soos wat die program aanbeveel, is ek seker die impak sal nog groter wees.

Of ek enige newe-effekte ervaar? Nee, eerlikwaar. Sal ek dit aanbeveel? Ek sou sê “ja”. As dit jou tipe ding is, kan jy dit probeer. As jy skepties is, vra jou dokter. My ervaring is dat mense skepties is oor enigiets wat hulle nie ken nie, of dalk iets is wat moontlike besigheid by hulle kan wegvat.

Doen wat vir jou werk, en waarmee jy veilig en gemaklik voel.

Lees  oor Fanie se volledige ervaring:

Fanie toets: Drup-behandeling

Fanie toets: Hoe ek voel nou?