Fifty Shades of Grey Couple
Het jy gehoor?

Fifty Shades of Grey: Die lang wag is byna verby

Die lang wag is byna verby! Die fliekweergawe van E.L. James se topverkoperboek Fifty Shades of Grey is amptelik die dag voor Valentynsdag op die grootskerm. En dames kan dit so vroeg soos môre al by die ‘Girlfriends’ Getaway’-geleentheid kyk.  

In Oktober 2012 toe hordes se neus in dié erotiese boek was en ’n fliek niks meer as ’n droom was nie, het Charis Labuschagne die artikel vir SARIE geskryf.

Lees jy ook Fifty Shades of Grey?

Die boeke wat alle rekords laat spat! Noudat 40 miljoen eksemplare verkoop is, vra ons: Het dié erotiese trilogie meer om die lyf as net seks?

Lanklaas het iets vroue se wêreld só geskud. Op ’n goeie manier … En dít net oor een ding: stomende sekstonele.

Wie sou ooit kon voorspel ’n suikersoet liefdesverhaal sou die verkope van reuse-boektreffers soos The Da Vinci Code en Harry Potter oortref? Maar dit is presies wat die Britse skrywer E.L. James se Fifty Shades of Grey-trilogie met sy gewaagde sadomasochistiese sekstonele gedoen het.

Daar is skaars ’n kuiery onder vriendinne waar die verhaal van die jong maagd wat deur ’n beeldskone, gefolterde biljoenêr verlei word, nie ’n gesprekspunt is nie. Vroue wêreldwyd droom van die hoofkarakter: die jong Christian Grey, met sy gebeitelde lyf, grys oë, donker verlede en voorliefde vir swepe en boeie. Selfs Australië se vroueswemspan wat vroeër vanjaar aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, het dié boeke ingespan as hul “geheime wapen”, volgens www.celebuzz.com. Die meeste van hulle het dit gelees om hulle te laat ontspan en hul aandag af te lei van die spanning voor hul deelname.

Sedert die eerste boek in die trilogie, Fifty Shades of Grey, in Mei 2011 verskyn het, het dit die rekords laat spat. Volgens RandomHouse (UK) is dit die Britse topverkoper van alle tye en het dit in Engeland meer as The Da Vinci Code en Harry Potter and the Deathly Hallows (die topverkoper in die Harry Potterreeks) verkoop.Dit is ook die eerste e-boek wat meer as ’n miljoen kopieë verkoop het, volgens die Britse koerant The Guardian. Wêreldwyd is al sowat 40 miljoen kopieë van die trilogie verkoop.

Suid-Afrikaners is net so meegesleur deur hierdie erotiese verhale wat beskou word as “mamma-porno” omdat soveel ma’s dit glo lees. Meer as 100 000 kopieë (e-boeke uitgesluit) van Fifty Shades of Grey is hier verkoop, terwyl sowat 54 000 en 48 000 eksemplare onderskeidelik van die opvolgboeke Fifty Shades Darker en Fifty Shades
Freed verkoop is. Teen druktyd was Fifty Shades of Grey vir die vyfde week opeenvolgens SA se topverkoper, volgens Nielsen Bookscan SA.

“Ek is al langer as 25 jaar ’n uitgewer en het nog nooit ’n boek gesien wat só in aanvraag is nie,” het Steve Connolly,besturende redakteur van Random House Struik, die boek se plaaslike uitgewer, in ’n mediaverklaring gesê.

Suid-Afrikaners se aptyt daarvoor het hulle heeltemal onkant betrap, erken Amanda van Rhyn, die nasionale bemarkingsbestuurder. In Julie het hulle in ’n advertensie in ’n Sondagkoerant verskoning gevra omdat daar nie genoeg boeke in SA is nie. “Ons het baie meer bestel as gewoonlik en dit was steeds te min. En die wêreldwye aanvraag was só groot dat dit tyd geneem het om nog uit Engeland te kry.”

Die kenners sê hul sê

Dr. Marlene Wasserman, ’n seksuoloog van Kaapstad, ook bekend as Dr. Eve, meen die boeke is so gewild danksy die wenkombinasie van ’n romantiese storielyn en vreeslose
sekstonele. Omdat dit boonop in die konteks van ’n liefdesverhaal is, identifiseer vroue daarmee, sê sy.

Avri Spilka, ’n seksopvoeder van Johannesburg, reken die wêreld is nóú reg vir ’n openlike gesprek oor seks. Dis asof die boeke uit ’n kollektiewe bewussyn getap het.

Marlene sê ons kan mos maklik pervers voel wanneer ons oor seks lees. “Maar omdat so baie vroue dié stories lees, voel ons gemaklik daarmee. Dit voel normaal.”

En omdat dit so “normaal” voel, erken vroue makliker wat hulle in die slaapkamer soek, sê Avri. “Die boeke laat hul verbeelding en fantasieë vlam vat. Dit skep ’n wonderlike platform
om openlik oor seks te praat en moedig vroue aan om te sê hoe hulle voel.”

Maar terwyl al hoe meer vroue meer beheer in die slaapkamer wil neem, is daar baie mans wat nou nogal verward is, meen Avri.

“Soos vroueregte oor die jare heen ontwikkel het, het ons vir mans die idee gegee ons wil altyd in beheer wees. Maar baie vroue kom agter dat dit baie bevrydend kan wees om soms toe te laat dat mans beheer neem. Ewe skielik weet mans nie meer wat om te doen nie.”

En nie almal is so positief oor die boeke nie. Vir baie lesers grens dit aan die hygroman-reekse van Mills & Boon en vir ander is dit selfs ’n terugslag vir feminisme.

“Kyk, hierdie boeke is oppervlakkig en dis nie vreeslik goed geskryf nie,” sê Marlene, wat erken sy kon dit self nie neersit nie. “Dit is ’n superfantasie wat nie sommer met enige van ons in hierdie leeftyd gaan gebeur nie. Ek glo die meeste vroue wat dit lees, besef dit. Maar ek is mal daaroor dat dit deel is van die hoofstroom en vroue aan die dink gesit het oor hul eie seksualiteit.”

En dit het vroue nie net aan die dink oor seks gesit nie – ons kan ook baie daaruit leer…

Lees HIER hoe ons kenners ’n paar van die Fifty Shades of Grey-mites nek omdraai.

Gaan jy Fifty Shades of Grey gaan kyk?

  • JA
  • NEE