fifty-shades-300
Het jy gehoor?

‘Fifty Shades of Grey’-sterre pronk op voorblad

Die twee hoofkarakters in die fliek Fifty Shades of Grey, Jamie Dornan (wat Christian Grey sal speel) en Dakota Johnson (Anastasia), pronk op die voorblad van die tydskrif Entertainment Weekly. Uiteindelik is die bal aan die rol …

Die boeke in die Fifty Shades of Grey-reeks het die wêreld vinnig op hol gehad. Tóé word die aankondiging gedoen dat die eerste boek in ’n fliek omskep word.

Maande van bespiegeling en kopkrappery het gevolg oor wie die wulpse hoofkarakters gaan vertolk. Charlie Hunnam (van Sons of Anarchy-faam) het aanvanklik die rol van Christian Grey losgeslaan nadat gerugte lank die ronde gedoen het dat Robert Pattinson (Twilight) dié rol sou speel. Maar nadat Charlie skielik uit dié rol onttrek het, moes die vervaardigerspan ’n plaasvervanger kry. Jamie Dornan (Marie Antoinette) is toe as die Christian-karakter aangewys.

Melanie Griffith se dogter in Fifty Shades of Grey-fliek

Dakota, die dogter van die Miami Vice- en Nash Bridges-akteur Don Johnson en die aktrise Melanie Griffith, was van die heel begin af die gunsteling-keuse om Anastasia te speel. Die vervaardigers het op Dakota besluit omdat hulle ’n jong, opwindende aktrise wou hê om dié rol te speel.

Die fliek, wat op 1 Augustus 2014 in rolprentteaters sou draai, sal nou eers in Februarie 2015 op die grootskerm wys – net betyds vir Valentynsdag. Universal Pictures, die verspreiders, het nie ’n spesifieke rede vir dié uitstel gegee nie, maar het erken dat Charlie wat onttrek het ’n bydraende faktor was.

WAT DINK JY VAN DIÉ PAARTJIE?