Fifty shades of grey
Het jy gehoor?

Fifty Shades-ster hoop nie haar ouers kyk die fliek nie

Sy wil nie regtig hê haar ouers moet die fliek Fifty Shades of Grey kyk nie, selfs al is hulle akteurs. Só het Dakota Johnson in ’n TV-onderhoud erken!

“Ek dink waarskynlik nie,” het die aktrise gesê toe ’n TV-aanbieder haar vra of sy wil hê haar ouers moet 50 Shades of Grey kyk. Dakota speel Anastasia Steele in die fliek.

Dakota, dogter van die akteurs Melanie Griffith en Don Johnson, het dit tydens haar en medester Jamie Dornan se eerste TV-onderhoud op die TODAY Show duidelik gemaak dat sy nie wil hê haar ouers moet dié waaghalsige fliek sien nie.

“Ek sou dit nie wou sien as hulle daarin gespeel het nie,” het die aktrise, wat voorheen in 21 Jump Street en The Five Year Engagement was, verduidelik.

Dakota Johnson as Anastasia Steele in Fifty Shades of Grey

Dakota Johnson as Anastasia Steele in Fifty Shades of Grey VIDEOGREEP: YouTube

Dakota en Jamie, wat in Once Upon a Time was, het ook aan Savannah Guthrie van die TODAY Show verduidelik dat die maak van die fliek baie tegnies is en eintlik glad nie romanties nie. Dít ondanks die feit dat daar meer as een romantiese oomblik in die lokprent is!

Die eerste lokprent van die langverwagte fliek is gister op YouTube uitgereik. Die video het reeds meer as 6 miljoen trefslae gekry! Kyk dit hier!

Hoewel aanhangers van die boeke baie opgewonde is om die fliek te sien, is die meeste dit eens dat die Britse akteur nié die perfekte keuse was om Christian Grey te speel nie. Ons sien uit daarna om te sien of Jamie die aanhangers verkeerd sal bewys!

Nóg oor Fifty Shades of Grey op SARIE.com