Het jy gehoor?

FOTO-ALBUM: Danie Niehaus hou vakansie in Turkye

Die gewilde sanger Danie Niehaus en sy meisie, Marianne Lochner, het onlangs in Turkye gaan vakansie hou. Hy deel sy foto’s en ervaringe met SARIE.com.

Turkye: Land van melk en heuning

1

Ek en my meisie, Marianne Lochner, bewonder die sonsondergang voor ons hotel in Kusadasi, waar ons ‘n private strand en bootvasmeerplek gehad het.

2

‘n Lekker swem in die Egeïese See – wat meer kan ‘n man dan vra ná ‘n hele dag se rondry en verdwaal tussen hordes ruïnes en antieke stede? Hier koel ek af voor ons hotel in Kusadasi, eens ‘n gewilde hawe vir seerowers.

3

Ek rus bietjie op die muurtjie voor die huis waar die maagd Maria vermoedelik haar laaste jare deurgebring het ná Jesus se kruisiging. Die gebou teen die Solmisosberg in Efese is ‘n paar keer verwoes en oorgebou. ‘n Non het die oudste stuk van die fondament aan my uitgewys, waar ek ‘n piepklein klippie gevind het – een van my belangrikste aandenkings van Turkye. Om die spesiale geleentheid te vier het ek ook ‘n slukkie water uit die fontein daar naby gedrink.

4

Tussen die sewende eeuse ondergrondse stad Kaymakli en Göreme het ons by ‘n wynmaker en kennis van my nuutgevonde Turkse vriend, Balkir, gestop en heerlike wyn geproe. Die Turke maak al wyn van die Hetitiese tyd af en die vulkaniese asklip is besonder vrugbaar. Die vriendelike wynmaker het ons van al sy wyne laat proe en ook tradisionele kostuums aangedra toe ons begin foto’s neem. Hier sit ek reg om die Ottomaanse ryk te beheer.

5

Ek en Marianne proe wyn saam met die Turkse musikant Bilal en vriend, Balkir, wat ons 1 hele dag in Cappadocia rondgeneem het. Die rooi- (kirmizi) sowel as witwyn (beyaz) is heel aangenaam – teen R200 per bottel behoort dit te wees! Hier klink ons glasies met die uitroep “sjerefe” (gesondheid).

6

Ná ‘n asembenemende besoek aan die ondergrondse stad Kaymakli wat sewe vlakke diep is, het ons verby die roomysstalletjie geloop. Al die roomysverkopers dra min of meer dieselfde gewaad en party doen selfs toertjies terwyl hulle die roomys (dondurma) vir die kinders opskep. Hier kry ek my beurt om my slag te wys. ‘n Hele groep besoekers het in hul spore omgedraai toe ek die groot roomys teen een Turkse lira begin verkoop. Dit het ‘n ruk geneem om die eienaar te oortuig dat ek net ‘n grap gemaak het, want dit kos aansienlik meer.

LINKS:

Net buite die stad Avanos word die mooiste potte gemaak uit klei van die Kizilirmakrivier wat so genoem is weens die rooi kleur van sy modder en klei. Die ondergrondse museum en pottebakkersentrum van 1 500 vierkante meter is heeltemal uit rots gekap en beskik oor die beste versameling potte en voorwerpe in die vulkaniese streek oor verskeie millenia. Danksy die uiters vriendelike museumbestuurder kon ek en Marianne elkeen ons eie pot maak. Hier kry ek my beurt.

REGS:

Ek en die 2 Turke wat ons vergesel het, loer deur ‘n gat in een van die honderde grothuise en -kerke in die Zelve-opelugmuseum. Vroeër die dag het ek en Marianne vir die musikant Bilal en nog ‘n paar Amerikaanse toeriste een van Koos Doep se liedjies, “Gebed”, gesing in ‘n grotkerk by Cavusin, waar Johannes se spore ook geloop het. Dit was baie spesiaal, want selfs al kon hulle nie ‘n woord verstaan nie, soos ons ook nie van Bilal se musiek nie, het die pragtige akoestiek van die grot die oomblik roerend gemaak.

9

Die teater by Patara, die geboorteplek van Sint Nikolaas, oftewel Sinterklaas, is een van vele oorblyfsels uit die Romeinse tyd. Hier het Brutus die Patarane met menseslagting gedreig, maar weer bevry nadat hy al hul goud en silwer afgeneem het. As sanger moes ek darem net iets in die eens glorieryke teater sing en ‘n klein stukkie potskerf as aandenking hiervan saamneem.

Moenie die res van die album misloop nie. Klik op die pyltjies hieronder om die res van hul reis te sien.

Turkse dans

Die skipper Rambo en ek doen 'n Turkse dans op sy boot op pad na die versonke Liciese handelstad op die eiland Kekova naby die dorp Kale aan die suidkus. Ons kon mekaar glad nie verstaan nie maar Rambo het my al die plekke gewys wat in die see weggesak het ná 'n aardbewing in 2 nC. Daarna het ons saam Turkse tee gedrink en het Rambo ons elkeen 'n gelukbringer geskenk. Hy het my selfs laat swem, hoewel dit nie juis toelaatbaar was nie.

SA'ners in Turkye!

Twee Suid-Afrikaners, Jannie en Ronel de Jager (links) van Bellville, het in dieselfde hotel as ons in Goreme gebly. Hulle het ons genooi om saam met hulle, hul reisagent, Monica Sepp (oorkant), en 'n Koreaanse meisie wat "couch surfing" doen (jy doen aanlyn aansoek by mense oral in die wêreld wat op die webtuiste is om gratis by hulle te kan woon) te gaan eet. Ons het almal die gesogte Potter's Kebab ('n vleisgereg binne in 'n kleipot wat losgekap word) geëet en heerlik oor ons verskillende lande gesels en oor en weer uitgevra.

Tyd vir 'n selfie

Ons neem 'n selfie by die kalsiumbaddens van Pamukkale naby die stad Denizli waar Cleopatra glo ook op haar dag in die warmbronne geswem het. Sodra die warm water afkoel, stel koolsuurgas kalsiumbikarbonaat vry wat byna soos kalk laag op laag vorm en uiteindelik oor millenia 'n katoenkasteel-uitwerking het wat steeds stadig maar seker na een kant groei.

Lekkernye

Gedroogde pampoenpitte is 'n lekkerny in Turkye. Ek en mede-Suid-Afrikaner Jannie de Jager bestudeer 'n Turkse vrou se oes in Goreme. Die hele dorp bestaan uit grothuise in die vulkaniese as wat uiteindelik tot rots vasgedruk is. Die hele landskap is surrealisties mooi en die Goreme-opelugmuseum is 'n wêrelderfenisgebied met sy ondergrondse huise en nege rotskerke, party selfs met wynperse, stalle en tronke daarin.

Houtperd van Troje

Ek word verdwerg deur die houtperd van Troje wat tans op 'n plein in Canakkale staan. Dit is natuurlik net die perd wat in die rolprent Troy gebruik is. Brad Pitt het die hoofrol in dié prent gespeel.

Antieke moskee

Grafstene van die Isa Bey-moskee in Selcuk, 'n stad waar kerkgeskiedenis hom in die tyd van Paulus en Johannes afgespeel het. Die moskee dateer uit die 14de eeu en is in twee Turkse style, Selcuk en Ottomaans, gebou.

Johannes die Doper

Johannes die Doper is aanvanklik teen die Ayasoluk-heuwel in Selcuk begrawe. Die sesde eeuse Romeinse keiser Justinianus het egter die twee kerke waar sy graf was, vervang met 'n groot basiliek tot sy eer. Dit was die grootste Bisantynse kerk in die bestaan totdat die Mongole dit in 1402 verwoes het. Ek bekyk die oorblyfsels van die basiliek van buite af waar drie jong Turke met groot entoesiasme ou muntstukke aan my wou verkoop - natuurlik onwettig.

Die naam van die ou kwartier van die stad Antalya is Kaleici ("binne in die kasteel"). Dit gee jou 'n goeie idee van hoe dit voel om in 'n kasteel te bly. Hier besigtig ek die Poort van Hadrianus wat opgerig is ter ere van sy besoek in 130 nC. Die stad staan agter Romeinse mure, maar die meeste van die gedenkwaardighede is deur die Selcuk-Turke op Romeinse fondasies gebou.

Die antieke stad Hierapolis is beslis 'n besoek werd. Dit is in die tweede eeu vC tot stand gebring deur 'n Pergameense koning en het in 129 vC deel van die Romeinse Ryk geword. Italianers het dit eers in 1957 begin opgrawe.

My hoogtepunt was my verjaarsdagpersent van Marianne - 'n lugballonvaart oor die asemrowende maanlandskap van Cappadocia met sy honderde grotte in die vulkaniese rotsgebergtes en valleie wat miljoene jare gelede gevorm is, en waar duisende weggekruip en hul geloof die eerste keer as ware Christene beoefen het. Ons moes wel vieruur die oggend daarvoor opstaan uit ons heerlike bed in 'n grot van ons hotel in Goreme, maar dit was een van daardie "bucket list"- dinge. Ons het 'n ongelooflike een uur lange vlug oor die Rose-vallei met sy "fairy chimneys" geniet

Die verlate kloostersentrum Zelve is een van die interessantste oorblyfsels van Cappadocia se grotbewoners (troglodiete). Op die trappe voor een van die honderde grothuise kon ons rustig uitkyk oor die vallei waar Turkse moslems (tot met die jaar van my geboorte) gewoon het voordat rotsstortings dit te gevaarlik gemaak het.

Naby die Topkapi-paleis, vir vier eeue die sentrum van die Ottomaanse ryk, is die museum, een van die besbewaarde geboue wat deur Mehmet die Veroweraar gebou is. Dit dateer uit 1459. Ek sit naby die museum in 'n antieke bad (natuurlik verbode).

Ons sit op 'n bankie by Fethiye, vernoem na 'n plaaslike held en vlieënier in die 1930's, Fethi Bey. Ons het mooi klere in Fethiye gekoop en die McDonald's was die enigste plek in Turkye waar ons ys kon vind!

'n Straat in Antalya behang met sambrele was vir my iets heeltemal nuuts. Ek móés net 'n foto neem.

*Alle foto’s verskaf aan SARIE.com. Foto’s se kopiereg lê by Danie Niehaus.