Het jy gehoor?

FOTO-ALBUM: Anel Alexander se week by die Cannes-filmfees

Die gewilde Afrikaanse aktrise Anel Alexander was die afgelope paar weke in Frankryk, maar dit was ongelukkig nie vir vakansie nie. Sy het die Cannes-fimfees bygewoon en haar nuutste fliek, Sink, bemark.

Sink is ’n Afrikaanse drama wat in 2016 in die plaaslike teater sal draai en as alles goed gaan in die buiteland vrygestel word in die kategorie vir films in uitheemse tale.

Die storie gaan oor Rachel, ’n huishulp van Mosambiek wat in Johannesburg werk. Sy kom by ’n kruispad wanneer haar dogter onder die toesig van haar werkgewer, Michelle (Anel), sterf: Gaan sy terug na haar land, of bly sy werk vir die mense wat verantwoordelik is vir die dood van haar kind sodat sy die res van haar familie kan onderhou? Die omstandighede raak nog meer ingewikkeld wanneer sy uitvind dat haar werkgewers hul eerste kind verwag.

Anel vervaardig Sink en speel die hoofrol. Ander bekende name in Sink sluit Jacques Bessenger, Amalia Uys, Diaan Lawrenson, Leandie du Randt en Hanli Rolfes in.

“Ons doel met die maak van Sink is om ’n Afrikaanse film te maak waarby die Europese mark kan aanklank vind. Tot dusver was die terugvoer baie positief en al het ons nog ’n lang pad voor ons, voel dit darem asof ons op die regte pad is,” vertel Anel aan SARIE.com.

Anel se hoogtepunte by Cannes:

 

Anel Alexander by ’n partytjie wat deur die Suid-Afrikaanse NFVF (National Film and Video Foundation) gehou is. Hulle het spesiaal die plaaslike sangeres Lira Frankryk toe gevleig om daar op te tree. Hulle het deftige tente op die strand opgeslaan waarin die gaste kon kuier.

Anel by dié Suid-Afrikaanse partytjie op die strand

Elke land het ’n ekspo gehad vir vergaderings en waar afgevaardigdes en belangstellendes meer kon uitvind oor die spesifieke land se plaaslike filmindustrie. Hier is Anel op pad na die Suid-Afrikaanse een.

Anel en Nico Panagio by die Amerikaanse filmekspo.

Llewellyn Greef (die vervaardiger van Leading Lady) saam met Anel en Nico voor een van die indrukwekkende seiljagte. Groot maatskappye huur dié seiljagte vir vergaderings en partytjies tydens die filmfees.

Anel by die première van Mad Max: Fury. "Op die kaartjies staan daar uitdruklik dat jy glad nie foto's of selfies op die rooi tapyt mag neem nie, maar almal doen dit skelm, daarom het ons ook so ’n paar geneem!"

Anel vertel: "Die stap van die regte egte rooi tapyt is iets om te beleef. Daar is letterlik duisende mense wat langs die kant staan en wag. Sommige van hulle wag sedert 07:00 die oggend om moontlik hul gunsteling-ster te sien. En die paparazzi is natuurlik ongelooflik. Honderde, honderde kameras wat gereed staan vir die perfekte foto."