FOTO: ©Naankuse

FOTO: ©Naankuse

Het jy gehoor?

FOTO’S: Angelina Jolie kuier by Marlice van Groen: Namibië

Angelina Jolie hou net aan om ons te inspireer. Sy het ná afloop van haar besoek in Suid-Afrika, waar sy die Afrika-unie in Johannesburg toegespreek het, besoek afgelê op N/a’an ku sê in Namibië saam met haar seun Pax.

Sy is nie onbekend op dié plaas wat ons almal leer ken het op die kykNET-program Groen: Namibië nie. Sy en die eienaars van die plaas, Marlice en Rudie van Vuuren, is lank reeds vriende.

Screen Shot 2015-06-18 at 8.48.03 AM

FOTO: ©Naankuse

Angelina en Marlice het in 2003 op die stel van Beyond Borders ontmoet waarin Marlice die aasvoëls hanteer het. Daarna het hulle hegte vriende geraak, en Angelina het gereeld op N/a’an ku sê gaan kuier. Angelina en haar man, Brad Pitt, se wildbewaringstigting, The Jolie Pitt Foundation, is sedert 2006 betrokke by die Van Vuurens en hul projekte.

Soos ons in Groen-Namibië sien, rehabiliteer hulle wilde en bedreigde diere en doen navorsing oor die konflik tussen menslike invloed en die natuur. Hulle doen ook fantastiese werk om die San-gemeenskap in hul omgewing te ondersteun deur middel van opvoeding en gesondheidsdienste. Marlice en haar kinders kan selfs vlot San praat!

Tydens haar besoek het Angelina en Pax die jongste jagluiperdwelpies, Shiloh, Wonder en Odyssey, ontmoet. Een van die welpies is na Angelina se dogter Shiloh Jolie Pitt vernoem. Shiloh het in Mei haar negende verjaardag gevier en het vir dié geleentheid die welpie geborg en die ander twee se name gekies.

FOTO: ©Naankuse

FOTO: ©Naankuse

“Shiloh kyk gereeld video’s van die welpies en is mal daaroor dat klein Shiloh ’n sterk en onafhanklike persoonlikheid het. Sy kan nie wag om N/a’an ku sê te besoek om hulle te ontmoet nie,” het Angelina in ’n verklaring gesê.

Sy het tydens haar besoek op die plaas lede van die San-gemeenskap ontmoet, en die leerlinge van die Clever Cubs-kleuterskool het vir haar gesing en ’n tradisionele dans gedoen. Almal was die ene glimlagte toe sy en Marlice ook begin dans het.

Sy het ook met die president van Namibië, dr. Hage Geingob, en sy vrou, Monica Geingos, ontmoet om die toekoms van wildbewaring in dié land te bespreek. Haar visie is om N/a’an ku sê as wêreldleier in wildbewaring te vestig.

“Dit is vir ons as gesin ’n voorreg om N/a’an ku sê en die goeie werk wat hier gedoen word te kan ondersteun. Ek sien uit om in die toekoms saam met Marlice en Rudie, en die regering van Namibië, te werk om te bou op dié suksesvolle projekte,” het Angelina verder gesê.

Ons het destyds vir Marlice ontmoet in die Volkswagen Polo-advertensie waarin sy haar gerehabiliteerde jagluiperd Lucky, wat net drie bene het, vir ’n rit neem sodat hy die wind in sy gesig kon voel soos wanneer hy sou hardloop.

Lees ook