Het jy gehoor?

FOTO’S: Annie Malan en 99 ander uitvoerende hoofde se aand op straat

Gisteraand het 100 van Suid Afrika se suksesvolste uitvoerende hoofde ervaar hoe dit voel om in Johannesburg se strate te slaap. Die Sun International CEO Sleepout is in samewerking met die radiostasie 702 aangebied. 

Die sakemanne en -vroue wat die Gautengse koue aangedurf het, is aangemoedig om warm maar gemaklik aan te trek, want hulle is gewaarsku: “Die geleentheid gaan voort, maak nie saak hóé die weer lyk nie.”

Hulle kon net die nodigste saamneem en moes onder kartonbokse geslaap. Vir aandete het die korporatiewe elite van Suid Afrika, waaronder groot name soos Maria Ramos van Barclays SA, Liezl Gericke van Virgin Atlantic SA en Tim Abott van BMW, sop en brood geëet.

Annie is deur Esteé Lauder se uitvoerende hoof, Sue Fox, wat ook deelgeneem het, benoem om dié uitdaging aan te gryp. Elke deelnemer moes R100 000 insamel en die geld word aan Girls & Boys Town geskenk.

Annie deel haar ervaring met SARIE.com:

Liewe SARIE-leser

Ek sit met ’n hart vol warm genade en ’n yskoue lyf wat net 45 minute geslaap het, maar ek is net té opgewonde oor die energie en goedheid wat ek gisteraand by die CEO Sleepout ervaar het.

Ja, dit was bitter koud, maar daar het ’n kameraderie geheers van die eerste oomblik dat ons voet op straat, of eerder voet by daad, gevoeg het!

Sue Fox, die besturende direkteur van Esteé Lauder, was so te se my “kamermaat” vir die aand. Die e-posse wat sy wêreldwyd van haar maatskappy se personeel ontvang het, het my laat besef hoe wonderlik só ’n ondervinding is.

My donateurs en personeel het glad nie lyfweggesteek nie.

Om te kwalifiseer moes mens R100 000 vir Girls & Boys Town insamel. Altesaam is R24 miljoen ingesamel!

Reuben Riffel se resepte is in die sopkombuis opgetower en ons het heerlike warm sop en broodrolletjies gehad teen die koue. Ciro Koffie het ons kafeïenverslawing gevoed, en daar was digitale uitsendings om die publiek op hoogte te hou.

Stuttaford Van Lines het aan elkeen van ons ’n kartonboks gegee – eers was dit ’n stoel en dan word dit ’n matras, en Virgin Atlantic het warm slaapsakke uitgedeel.

Oral het sakeleiers idees, komplimente en verwondering uitgeruil – ’n energie wat beslis tuis hoort in Gwenlaan reg onder die Johannesburgse Effektebeurs.

Stephen Koseff van Investec het eerste gaan slaap. Mark en Brett Levy van Blue Label Telecoms en Sue Fox van Esteé Lauder is die top-donateurs van die aand.

Liedjies is gesing, kerse is uitgedeel, en families en vriende se welwense aan deelnemers is op ’n groot skerm uitgesaai.

En toe begin almal rustig raak.

Ek vra iemand om my bed reg te vou. Langs my het Sue Fox reeds snoesig haar “grondbed” gelê. Aan my ander kant is Wahl Bartman (van Fidelity-sekuriteitsdienste) en Rudolf Straeuli (van Lions Rugby-unie). Ek spring kort-kort op en gaan soek hitte by ’n vuur. Sommige mense verkies om eerder om die vure te sit en nie te slaap nie.

Hier weeg jy koue en moegheid op teen mekaar … die dobbelspel waarmee soveel haweloses elke uur van die nag sukkel. Uiteindelik gee my liggaam in en ek gaan klim weer in my straatboks in my slaapsak. Dis al byna 4 uur en ek het nog niks geslaap nie.

Wahl en Rudolf word stadig hier naby my wakker. Toe hulle oor rugby begin praat, raak ek uiteindelik aan die slaap.

Maar ek skrik vinnig weer wakker, my maats is weg en drink koffie, my nek is styf en my bene seer van die harde teer … Nou raak dit weer ’n vraag tussen warm bly lê op een plek of rondskuif om ’n seer spier te help. Later gebruik ek ’n opgerolde koerant as kopkussing  – baie effektief! Die slaapsak hou my warm en ek raak weer weg vir 20 minute. Hier op straat is daar nie tyd vir drome nie – alles is té realisties.

Sue Fox word saam met my wakker en sy wil dadelik by die huis kom – werk wag, vergaderings wag. Soos ek uit my slaapboks uitkruip en wonder of die donkerte my ongekamde hare sal verskans, loop ek in ’n vriendelike gesig vas: Maria Ramos. So klein, fyn en trots. Ek het sowaar gedink die groot senior mense sou nie heelnag daar bly nie. Maria lyk so trots op haar koue nag op straat en tog só nederig en toeganklik.

Iemand van Virgin sê ek kan my slaapsak hou, maar ná die nag van veg teen die koue is ek gretig om die slaapsak te skenk vir ’n hawelose wat strate se teerpad-kussings en sementmatrasse beter ken as ons.

Ons ontvang sakkies met ontbytpakkies – selfs dít kan ek nie eet nie. Ek stap uit, strate toe! Gretig om ’n behoeftige te vind.

Die koue en harde klipvloer het beslis ’n empatiese snaar in my wakker gemaak wat ek nog nie ontdek het nie. My medemens voel vandag só anders as gister.

My sakemilieu is skielik nie ’n Sandton en Gomorra nie, maar leiers wat ek met trots Suid-Afrikaners kan noem.

Ek weet hierdie inisiatief se gevolge is nog veel groter as net die R24 miljoen vir Girls & Boys Town.

Klik hier vir volledige lys van deelnemers.

Annie Malan en Sue Fox, uitvoerende hoof van Esteé Lauder, gereed vir hul aand op straat.

Annie en Sue Fox, uitvoerende hoof van Esteé Lauder.

Wahl Bartman, uitvoerende hoof van Fidelity-sekuriteitsdienste, en Annie Malan.

Sue Fox, uitvoerende hoof van Esteé Lauder, Annie Malan en Mark en Brett Levy van Blue Label Telecoms. Hulle twee en Sue was die top-donateurs.

Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Lions Rugby-unie, en Annie Malan.

Annie en die premier van Gauteng, David Makhura.

Annie spreek die skare toe.

Die sakeleiers van Suid-Afrika slaap in Johannesburg se strate.

Die sakeleiers van Suid-Afrika slaap in Johannesburg se strate.

Annie slaap in haar kartonbed.

Sue Fox van Esteé Lauder, Annie Malan en Jacques Celliers van FNB.

Lees ook