Het jy gehoor?

FOTO’S: Britse sangeres Lily Allen skiet musiekvideo in die Kaap + SA-boere in Franse fliek

Die bekroonde sangeres van die liedjie “Smile” kuier in Kaapstad terwyl sy ’n nuwe musiekvideo skiet.

“Air Balloon” is die eerste enkelsnit van Lily Allen se derde album en soos die titel aandui, word dit in ’n lugballon geskiet.

Lily het dié foto’s op haar Instagram-blad gedeel:

Lily het ook die Kaapse kabelkarretjie beproef (luister na die Afrikaanse stemme op die agtergrond!).

 

FOTO’S op die stel van die musiekvideo

(blaai deur ons galery)

Lily Allen skiet musiekvideo in Kaapstad

Die lugballon wat vir haar musiekvideo gebruik is. FOTO: Instagram @lilyallen

Lily Allen in Kaapstad

Lily op die stel van haar musiekvideo. FOTO: Instagram @lilyallen

Lily Allen sê die Afrika-son is warm!

Die warm son het haar uitgeput. FOTO: Instagram @lilyallen

Lily se naelkuns - spesiaal vir SA!

Afrika-naelkuns met die Groot 5 op elke nael. FOTO: Instagram @lilyallen

Lily het groot naam vir haarself gemaak as 22-jarige met die gewilde liedjie “Smile”. Haar sukses het egter begin kwyn toe sy in die sop beland het vir kontroversiële kommentaar. Blykbaar het sy groot name in die musiekbedryf, soos Amy Winehouse, Kylie Minogue, Bob Geldof en Katy Perry, beledig. Sy het ook na bewering ’n kameraman aangeval en rassistiese uitsprake gelewer.

Maar Lily het blykbaar nou besluit sy wil dié kontroversies agter haar sit en skoon begin – iets wat sy glo dié nuwe album sal regkry.

Luister hier na “Air Balloon”, die liedjie waarvoor sy nou die musiekvideo skiet:

SA-boere speel in Franse fliek

Twee boere van Lady Grey in die Oos-Kaap, Aubrey Fincham en Soon Cloete, speel in ’n Franse fliek wat onlangs in dié dorp verfilm is, skryf Volksblad.

In die fliek, Lady Grey, speel Aubrey en Soon die boer Angus se buurmanne. Angus verloor baie skape nadat jakkalse op sy plaas begin jag. Dan spring die ander boere in die omgewing saam met hul honde in om Angus te help om die jakkalse te vang.

Aubrey en Soon vertel aan Volksblad dat die fliek ’n ekonomiese inspuiting vir die dorp gegee het, omdat heelwat inwoners tydelik kon werk kry op die stel. ’n Laaste paar tonele vir die rolprent word nou in Rhodes, ook in die Oos-Kaap, opgeneem. Die fliek gaan by die Cannes rolprentfees in Frankryk bekendgestel word.

Die Ierse akteur Liam Cunningham (Davos Seaworth in die TV-reeks Game of Thrones) vertolk die rol van Angus. Emily Mortimer van die TV-reeks The Newsroom (MacKenzie McHale) speel ook in die fliek.