Het jy gehoor?

FOTO’S: Morné Steyn se tweede bulletjie op pad

Die rugbyspeler Morné Steyn en sy vrou, Christelle, verwag eersdaags hul tweede seuntjie. Hulle is nou in Suid-Afrika vir die geboorte en het dié pragtige swangerskapfoto’s laat neem.

Christelle vertel aan SARIE.com dat sy, Morné en hul eersteling, Jóvan (3), baie opgewonde is om vir klein Christean te ontmoet. “Jóvan vra elke dag wanneer sy boetie kom. Hy kan nie wag om met hom te speel nie.”

Hulle beplan om ’n maand ná die geboorte terug te gaan Frankryk toe waar Morné vir die rugbyklub Stade Français speel.

“Ons het goeie vriende daar en ons probeer die familie ten minste elke drie maande sien,” sê sy op die vraag of dit moeilik is om haar ondersteuningsnetwerk agter te laat. Daar is omtrent agt ander Afrikaanse paartjies daar en hulle kuier – en braai – gereeld saam.

Jóvan gaan in November vanjaar vir die eerste keer na ’n Franse skool toe. “Ek gaan dan seker meer Franse woorde leer,” skerts sy. Morné het Franse taalklasse by die rugbyklub waar hy speel, maar sy sê dat hul huistaal altyd Afrikaans sal bly.

Christelle glo nie die Franse lewe is vir Jóvan baie anders as wat dit in Suid-Afrika sou wees nie. “Die enigste ding is dat ek nie in Frankryk mag werk nie, dis ’n seën om so baie tyd saam met my kind te kan deurbring, maar dit sou dalk nie so gewees het as ons in Suid-Afrika gewoon het nie.”

Hier is die foto’s van hul fotosessie saam met Lise van La Li’s Photography in Pretoria.

Besoek La Li’s Photography se Facebook-blad HIER.

Blaai deur die album vir nóg foto’s

FOTO’S: La Li’s Photography

Lees ook