Het jy gehoor?

FOTO’S: SARIE.com-blogger Hélène Horak: My nuwe lewe nádat ek 70kg verloor het

Haar blog op SARIE.com het die verbeelding aangegryp. Hélène Horak, ma en tandarts van Pretoria, het 70 kg in een jaar en vyf maande verloor. Hélène se maerword-reis is inspirerend en sy vertel haar storie graag.

Soms sidder sy wanneer sy na foto’s van haarself kyk toe sy 140 kg geweeg het. Hélène Horak (37), ’n tandarts van Centurion, is eintlik skaam omdat sy dinge so ver laat gaan het. In haar blog “Ek het 70 kg verloor” op SARIE.com vertel sy van dié moeilike reis van September 2011 tot Mei 2013 om van die ekstra gewig ontslae te raak. Dít was een van die gewildste artikels nog op SARIE.com en is nagenoeg 50 000 keer gelees. Hélène handhaaf sedert Mei verlede jaar haar doelgewig.

Hoe kon ek toelaat dat my gesondheid so agteruitgaan?

“Al die tekens was daar dat ek buite beheer was. Vet bobene wat rou skuur as ek loop. Katspeentjies op die vel, ’n teken van vroeë diabetes. Goed wat na pitsere lyk in die waai van my been, wat gevorm het weens sweet wat agter die rolle opgedam het, swam-infeksies onder my swaar borste, hoë bloeddruk, geswolle enkels …”

Sy was boonop altyd uitasem en kon nie meer haar skoenveters vasmaak nie. Haar maag was in die pad. “Toe my knieë begin pyn, is ek dokter toe. My ma, Mariana, het ’n baie erge vorm van artritis en dit is oorerflik.” Sy het besef sy is “mollig”. Maar toe die dokter haar in September 2011 weeg, was sy geskok om te sien dat sy 140 kg weeg. “Ek het gedink dis iets oor die 100 kg.”

Dít, vertel sy, was haar oomblik van waarheid …

“Dit voel goed om deesdae ánder oorgewig mense te inspireer. Ek weeg tussen 67 en 72 kg en is nie brandmaer nie. Ek dink vroue móét kurwes hê. My stylikoon is juis die aktrise Sofia Vergara van die televisiereeks Modern Family.

Aanvanklik wou ek nie gewig verloor nie, maar net gesonder leef. Ek het besef hoe lank ek in ontkenning geleef het. My dierbare man, Philip van der Merwe, ’n veiligheidsbestuurder, het my nog nooit lelik laat voel nie. Ek het lank in groot nr. 26’s weggekruip, myself wysgemaak ek is oukei.

Lees Hélène se dieet-blog hier! 

In September 2011 het ek begin om saam met Philip om die blok te stap. Hygend. Ek het gedink ek sal dalk meer energie kry om met ons seuns, Divan (7) en Duard (13), te speel. Ek het gaskoeldranke uitgesny, maar steeds elke middag ná werk ’n groot sak skyfies verorber. Binne ’n maand het ek 5 kg verloor. Dis toe nie so moeilik om gewig te verloor deur klein veranderinge in my leefstyl te maak nie, het ek gereken.

In daardie stadium het ek reeds, onsuksesvol, elke foefie om gewig te verloor probeer. Maar ek het presies geweet wat om te doen: Ek moes oefen en reg eet. Toe besluit ek om dit op my eie aan te pak, maar vir niemand te sê nie. Netnou misluk ek weer en almal sê: ‘Ag, Hélène is al weer ’n loser.’

Soos ’n alkoholis aan drank verslaaf is, was ek aan kos. Dit is boonop baie moeilik om dit te omseil. Jy móét tog daagliks eet. Ek het mense met kos bederf om erkenning te kry. Die mamma wat die lekker skaapboud en aartappels maak. Ek is mal oor boerekos en ek hou van my eie kos. En ek het dit ook gebruik om myself te troos. Ek is geneig tot depressie.

Helene Horak

Dit was oorweldigend om dié hengse spul gewig te verloor. Ek was skoon depressief. My jongste broer, Eduard, ’n bedryfsingenieur van Centurion, met ’n prag-liggaam, het gesê ek moet dit aanpak soos wat jy ’n olifant eet – happie vir happie. Toe stel ek 15 mini-doelwitte vir myself. Soos om nog 5 kg te verloor voor my ouma Bets Horak van Graaff-Reinet se verjaardag in November. Ek het besef meer as 1 kg gewigsverlies per week was nie volhoubaar nie.

In Oktober het ek my kos in ’n kleinbordjie begin skep. Ek het intussen ook by ’n gimnasium aangesluit. Die eerste keer was aaklig. Dit het gevoel asof al die meisietjies in hul crop toppies die drillerige vettie aangluur. Aanvanklik het ’n poppie-fiksheidsinstrukteur vir my ’n belaglike program opgestel. My knieë was baie swak en ek kon nie hardloop en goed soos hurksitte [squats] doen soos sy voorgestel het nie. Ná ons derde sessie het ek oorgeslaan na my ma se Pilates-instrukteur, Riaan Wolmarans, wat ook gim-werk gedoen het. Dié Griekse god het vir my kardio-oefeninge gegee om vet te verbrand en ons het geleidelik my spiere versterk. Einde Oktober 2011 het ek reeds 10 kg verloor.

En toe ontdek sy die app MyFitnessPal wat haar gehelp het om boek te hou van wat sy eet … lees môre meer daaroor PLUS nóg foto’s van Hélène 70kg ligter!

Só lyk sy nou!

IMG_2258 IMG_2236 IMG_2222 IMG_2223

 

FOTO’S: Phyllis Green | GENEEM BY: River Meadow Manor. Bel Bonnie by 082 343 1518 of e-pos marketing@rmmanor.co.za | GRIMERING EN HARE: Heidi Gouws | STILERING: Fanie Cronjé | ASSISTENT: Johan Huebsch

Blou rok van Jo Borkett | Swart rok van Country Road en leggings van Top Shop

  • Whaaaat! Jy lyk verby amazing Helene! Jy kan defnitief ‘n motiverings spreker word. Wel gedaan aan jou uithouvermoe en jou uiterse wilskrag. Jy is ‘n sterk vrou!