sr1009fransi_swanepoelrz
Het jy gehoor?

Franci Swanepoel (Binneland se Toeks) – minus 18 kg in 8 maande

Aanhangers van Binneland sub judice op M-Net kyk deesdae twee keer as Toeks Joubert, bestuurder van die koffiewinkel, op die skerm verskyn. Dit lyk dan asof sy ál kleiner word. En dis waar! Die aktrise Franci Swanepoel (38), wat dié rol vertolk, het in agt maande 18 kg verloor.

“Ek voel soos ‘n nuwe mens,” vertel sy by Binneland se ateljee in Randburg. “Dis lekker om te oefen, in die buitelug te stap en te sien hoe my werksklere aan my begin hang. Toeks voel ook sommer baie goed. Haar klere moes al ‘n paar keer kleiner gemaak word.”

Franci voer al lank ‘n stryd teen die kilogramme en was al op talle diëte.

Ek het ‘n obsessie met my gewig en diëte gehad,” erken sy. “Ek was ‘n reeks-diëter. Hoewel Toeks in die koffiewinkel tussen baie koek werk, het ek in jare nog nooit eens een stukkie daarvan geëet nie.

“Ek is klein gebou en voel nie gemaklik in my lyf wanneer ek oorgewig is nie. Dit was skrikwekkend om myself só op TV te sien. Ek het vir myself so lelik gelyk dat ek gewonder het hoe ek nog hoegenaamd ‘n selfbeeld kan hê. Ek was anti-sosiaal en wou nie eens uitgaan nie. Ek wou ook nie nuwe klere koop of moeite doen met my voorkoms nie.”

Maar nou lyk Franci fyn en klein in haar nuwe paar blou jeans.

“Ek het in vyf jaar nie jeans gedra nie, net los langbroeke met rekke.”

Nou besit ek ses pare jeans! Ek het selfs soos ‘n jong meisie vir my ‘n paar skinny-jeans gekoop. Voorheen het ek ‘n no. 38-kleregrootte gedra, nou pas ek in ‘n 34. Waar ek eers ekstragroot truie gekoop het, koop ek nou ‘n klein of mediumgroot trui, want ek het die buiteband om my middel verloor.” Die klere wat vir haar te groot is, bêre Franci in haar “vet klerekas”.

“Ek het al jare lank ‘n klerekas vir groot klere en nog een vir die kleiner klere wat ek dra wanneer ek op dieet was en gewig verloor het,” vertel sy. “Ek wil een van die dae al my vet klere weggooi!”

***

Franci was ‘n aktiewe kind wat op laerskool aan sport deelgeneem het.

“Op hoërskool het ek al geweet dat ek eendag wil toneel speel en my prioriteite het verander. Ek het eerder aan kunswedstryde deelgeneem as aan sport en ek het begin gewig aansit.

“In daardie tyd het ek allerhande simpel diëte gevolg, soms so ekstreem dat ek 46 kg geweeg het en kinderklere moes koop. Gewoonlik was ek ná so drie maande weer oorgewig. Ek het altyd gedink ‘n mens volg ‘n dieet totdat jy maer is en dan kan jy weer eet wat jy wil.”

Kry dag 1 – 3 van Franci se dieet

Wat sy eet en nie eet nie, hoe sy oefen en haar riglyne vir ‘n gesonde leefstyl.

 

Sy tel die diëte wat sy gevolg het op haar vingers af. “Daar was die heup-en-dy-dieet, waarop ek baie gewig verloor het. Maar ek kon sekere goed glad nie eet nie en ek kon nie daarmee volhou nie. Ek is net té lief vir kos.

“Ek het ook al ‘n baie streng hoëproteïen-dieet gevolg waarop ek nie kon bly nie. Twee jaar gelede het ek op ‘n gewilde dieet waarin ‘n mens jou porsies moet afweeg sowat 6 kg verloor. En vyf jaar gelede het ek vir my troue met Max Baer 12 kg verloor. Maar toe ek ná die huweliksplegtigheid uit die kerk stap, was ek al klaar weer lus vir pizza. Sowat twee maande later het ek die 12 kg weer aangesit.

“Gelukkig kan ek sover dit Max aangaan nog 40 kg swaarder geweeg het as op my vetste. Hy het nog nie een oomblik gesê ek weeg te veel nie. Hy eet ook net wat ek maak, so hy gee nie om of ek op dieet is of nie. Kos is nie vir hom so belangrik soos vir my nie – wat al in die oggend dink wat ek vanaand gaan eet!”

***

Franci het met haar nuwe dieet begin nadat sy einde Oktober 2009 in ‘n tydskrif gelees het hoe die aktrise Helene Lombard baie gewig verloor het. “Ek het dieselfde dag nog uitgevind watter dieet dit is en die verslankingskliniek in Sandton gebel om te hoor hoe dit werk.

“In Junie verlede jaar het ek opgehou rook en oor vyf maande 10 kg aangesit omdat ek my met kos getroos het. Ek wou nog altyd ophou rook voordat ek 40 word en het ‘n kursus gevolg om dit reg te kry. Oor ses weke het ek van 40 sigarette per dag bietjie vir bietjie afgeskaal totdat ek heeltemal opgehou het.

Ek is baie trots op myself dat ek dit ná 20 jaar van straf rook kon doen, en ek gaan nooit weer rook nie. Toe dink ek: As ek dít kan regkry, kan ek enigiets regkry. Ook maer word.” Franci was van plan om eers ná die Kersvakansie, in Januarie, met die dieet te begin.

“Die vrou by die kliniek het gesê as ek dadelik wegspring, kan ek teen Januarie al ‘n hele paar kilogramme minder weeg. Ek het toe dadelik met die dieet begin, en was toe ook in Januarie heelwat ligter. My gesig is die eerste wat verander het. As ‘n mens vet is, lyk jou gesig soos ‘n ronde maan.

Dit was vir my ‘n groot oorwinning om oor Kersfees te verslank, want ek assosieer vakansie met eet en drink. Almal om my het geëet net wat hulle wou en ek moes die keuse maak om die dieet eerste te stel.

“Ek het dit oorkom deur een dag op ‘n slag te neem, maaltyd vir maaltyd. Vis en slaai maak ‘n mens net so versadig soos vis en skyfies, en om ses dae per week soet te wees is glad nie so lank as ‘n mens weet jy kan op dag sewe ‘n bietjie ‘uithaak’ nie. Ek het sowat 500 g per week verloor, en ek dink dis ‘n gesonde manier.

“Iemand het vir my iets gesê wat vir my baie beteken het: ‘Kos sal nie weghardloop nie.’ Ek hoef nie nóú daardie kaasburger te eet nie, daar sal altyd kaasburgers wees.”

Franci oefen nou om haar slap spiere ferm te maak.

“Ek het nie ‘n begeerte om in ‘n bikini op die strand te verskyn of stywe toppies te dra nie, maar ek wil goed voel. Ek het ‘n trapmeul by die huis en stap vier keer per week sowat 3 km op ‘n slag daarop. Ek het ook handgewiggies en ‘n oefenbal gekoop, en gaan stadigaan daarmee begin oefen. Ek stap ook gereeld buite.

“Omdat ek nie meer met sigaretgif in my lyf sit nie, soek ek nou ook ander maniere om gesond te leef. Dit gaan nou vir my daaroor om van myself ‘n beter mens te maak. Hoe ouer ek word, hoe groter is my soeke na beter word.”

Die nuwe Franci is ook meer gemotiveerd in haar werk.

“Ek en my vennoot, Marius van de Wall, besit die produksiemaatskappy Makiti. Ons vervaardig al nege jaar die feesprogram Fiesta wat op kykNET vertoon word. Ek het ook sommer nog baie nuwe dinge in die vooruitsig. “Oorgewig kan ‘n mens se hele lewe oorneem, want jy bekommer jouself heeltyd daaroor. Sonder daardie bekommernis het ek nou meer energie en ek is meer kreatief.”

  • Era

    Kan ons meer inligting kry oor die dieet? Kontak besonderhede miskien.

  • Petro

    Ja asseblief ek sal ook wil kontak besonderhede en meer van die dieet wil uitvind?

  • Jennie

    Sal baie beslis meer inligting wil hê kan my goed vereenselwig met die berig dis asof daar van my gepraat word.

  • Janine

    Ek soek asseblief ook die kontak besonderhede vir die dieet. Klink goed. Ek is reg hiervoor.

  • Tanya Mattheus

    Jy lyk wonderlik, kan ek inligting kry. ASSEBLIEF!!!!!

  • Alta Earle

    Jylyk pragtig

  • sarie brown

    jy lyk pragtig – ek het motiveering en dringend hulp nodig – ken jy my meer inligting gee

  • Dandelien van Rooy

    Franci lyk regtig pragtig.Ek sou ook graag wil weet waar die uitrusting wat sy tydens episode van 14 Maart gedra het, te kry is. ‘n Mens kan sommer sien sy is gelukkig en vol geesdrif!

  • Jackie van Niekerk

    FANTASTIES Franci. Elke keer as ek jou op HARTLAND sien, dan sê ek vir my man: "Ek kan nie GLO dis jy nie…jou hare is soooo mooi! Jy lyk so goed!!!!" JY LYK ‘stunningggggggggg’

  • znmijy

    yIQ546 oznihdwblhoi, [url=http://zpykhhsymkju.com/]zpykhhsymkju[/url], [link=http://jnfgzxpbqsjm.com/]jnfgzxpbqsjm[/link], http://ljbbianxxekw.com/