francois_phyllis_green
Het jy gehoor?

François Pienaar, bok vir uitdagings!

En dis presies wat François Pienaar op die rugbyveld as oud-Springbokkaptein gedoen het. En op berge. En op fietse. Hy’t skaars ‘n Kilimandjaro-avontuur agter die rug, of hy spring in die saal vir daardie 105,5 km-fietstoer . . . Twee uitmergelende uitdagings in een week, maar François doen dít alles om opvoedkundige geleenthede vir talentvolle minder bevoorregte kinders te skep.

Teen Woensdagnag staan François heel waarskynlik op die spits van die berg Kilimandjaro, waar hy die Springbok-vlag wil plant. En Saterdag vlieg hy terug na Suid-Afrika om Sondag aan die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer in Kaapstad deel te neem. Die geld word ingesamel vir die Kaapse liefdadigheidsorganisasie Make a Difference (MAD), waarvan hy die hoof is.

Die res van sy groep bergklimmers in Tanzanië is oud-Springbok Hennie le Roux, die voormalige Leeus-rugbyspeler Scott Gibbs, die Londense sakeman Dominic Silvester en 5 ander vriende. Dieselfde groep en nog sowat 170 fietsryers, onder wie die akteur en TV-aanbieder Colin Moss, ondersteun Sondag die MAD-organisasie. François en Dominic gaan die wedren op ‘n tandemfiets aanpak.

Besoek www.themadbunch.com vir meer inligting oor dié liefdadigheidsorganisasie.

*Nog twee MAD-ondersteuners is die Hollywood-sterre Morgan Freeman en Matt Damon. As julle hulle dalk vlugtig in die Moederstad gewaar het … hulle is mos besig met ‘n belangrike fliek. Freeman (as Nelson Mandela) en Damon (as Francois Pienaar) is in Kaapstad vir die verfilming van The Human Factor, met Clint Eastwood as regisseur. Die rolprent is gegrond op die lewe van Nelson Mandela ná apartheid in sy eerste termyn as president en die Springbokke se 1995-Wêreldrugbysege.

Damon en Freeman is onderskeidelik Woensdag- en Donderdagoggend tussen 8:00 en 9:00 Ryan O’Connor se ateljee-gaste op Kfm94.5. O’Connor gesels vandeesweek ook gereeld regstreeks met Pienaar oor hul berg-ekspedisie in Tanzanië.