Het jy gehoor?

‘n Dogtertjie vir Franse president en Carla Bruni

Giulia Sarkozy is Woensdag 19 Oktober 2011 omstreek 8 nm. in die Clinique de la Muette, Parys, Frankryk, gebore – amper twee weke laat!

Dis die eerste baba vir ‘n Franse leier tydens sy ampstermyn sedert Napoleon se heerskappy!

Sarkozy het vanaf Duitsland huis toe gevlieg om Carla tydens die geboorte by te staan, berig guardian.co.uk.

Die inwoners wat in die omgewing van die kliniek woon, sal verheug wees oor die geboorte, aangesien die strate om die hospitaal al vanaf 1 Oktober gesluit is vir die baba se geboorte. Nou kan hulle weer hul normale gang gaan.

Die Franse het koorsagtig gewag vir die baba se koms, en daar het selfs valse nuus op sosiale netwerke die rondte gedoen dat die baba gebore is en dat dit ’n seun is met die naam Vadim.

Die presidentspaar het voor die geboorte reeds aangekondig dat hulle geen foto’s van hul baba aan die media beskikbaar sal stel nie.

President Sarkozy en Carla is in Februarie 2008 getroud. Hy het drie kinders uit twee vorige huwelike en sy het ’n ouer seun.