Het jy gehoor?

Nuutste dokumentêr oor Queen is hier!

Dié week is daar iets vir almal, veral as jy van dokumentêre films hou – van Michael Moore wat vir Amerika moeilike vrae vra tot die herlewing van een van die wêreld se bekendste groepe, Queen.

Hier is jou lys met flieks wat vandag begin draai en dié wat steeds speel. Moenie dit misloop nie!

Twee grade van moord

Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo) is ’n bekende Kaapse sielkundige met ’n topverkoper-boek en ’n gelukkige huwelik met Ben (Marius Weyers). Hul enigste kind, Christiaan (Roelof Storm), moes in sy grootwordjare noodgedwonge baie staatmaak op die liefde van sy “tweede ma”, die lojale huiswerker, Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards).

Aleksa onderneem om deel te wees van ’n dokumentêre realiteitsreeks waarin daar gefokus word op haar terapeutiese werk onder vroue wat liefde met pyn verwar. Een een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronje), stem in om die proefkonyn te wees. Soos die verhaal ontvou, word Aleksa gedwing om haar eie integriteit te bevraagteken en ook haar bereidwilligheid om opofferinge te maak vir dié wat sy liefhet.

Queen: A Night In Bohemia

Die nuwe dokumentêre film oor Queen begin met een van hul grootste en bekendste konserte, die een op Kersdag 1975 by die Hammersmith Odeon in Londen. In dié fliek sien jy beeldmateriaal en onderhoude met die groep wat nog nooit tevore gewys is nie. Jy beleef saam met hulle die reis van ’n onbekende musiekgroep na wêreldbekendheid ná die uitreiking van hul liedjie “Bohemian Rhapsody”.

Free State of Jones

Die fliek is geïnspireer deur die ware verhaal van die boer Newton Knight (Matthew McConaughey) wat saam met slawe geveg het in die jare vanaf 1862, tydens en ná die Amerikaanse Burgeroorlog in Jones County, Mississippi. Baie van die gebeure in die prent is op die waarheid gegrond, maar die verhaal is grotendeels fiksie.

Where to Invade Next?

Michael Moore, regisseur van die bekende dokumentêre films Fahrenheit 9/11 en Bowling for Columbine (vir lg. het hy die Oscar vir beste dokumentêre prent gewen), is terug met nog ’n film. Hierin ondersoek hy Amerika se probleme en die oplossings daarvoor.

God’s Not Dead 2

Ná die sukses van die eerste God’s Not Dead-rolprent is daar nou ’n tweede fliek. ’n Onderwyseres (Melissa Joan Hart van Sabrina: The Teenage Witch) beland in die spervuur ná sy ’n vraag oor Jesus in die klaskamer geantwoord het. Sy word afgedank, maar kry ’n jong prokureur (Jesse Metcalfe van John Tucker Must Die-faam) om haar in die hof te verdedig.

Maak seker jy loop ook nie hierdie flieks op die grootskerm mis nie

Lees nou

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent