Het jy gehoor?

Gareth Cliff volg in David Beckham se voetspore

Gareth Cliff gaan soos ’n reeks bekendes voor hom (onder andere David Beckham, Ben Stiller, Michael J. Fox en Selena Gomez) die stem wees van ’n karakter in die gewilde Disney-reeks Phineas and Ferb.

Kinders én volwassenes is gaande oor dié reeks, waarvan meer as 100 episodes al uitgesaai is. Dit is die  gewildste reeks op die Disney-kanaal en het na raming sowat 289 miljoen kykers – onder wie die Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama.

Gareth verleen sy stem aan ‘n verkoopsman in die derde seisoen van dié Bafta-benoemde en Emmy-bekroonde komediereeks.

Die skepper en vervaardiger van die reeks, Jeff Marsh, het gesê hulle is opgewonde oor Gareth se bydrae. “Dit is opwindend om iemand so talentvol en snaaks soos Gareth Cliff te betrek. Hy is ook gewild onder kinders en volwassenes reg oor Suid-Afrika.”

Gareth kan nie wag dat sy episode uitgesaai word nie. “Ek geniet Phineas and Ferb, daarom is ek baie bly om deel te wees van dié ikoniese reeks …”

Thomas Sangster

Phineas and Ferb gaan oor die avonture van Phineas en sy broer Ferb. Die Britse akteur Thomas Sangster (die oulike seuntjie wat tot sy ore toe verlief was in die film Love Actually, foto bo) is die stem van Ferb. Ferb wil verveeldheid hokslaan tydens hul somervakansie en in die proses teister dié twee broers hul ouer suster, Candace. Boonop is hul troeteldier, Perry die eendbekdier, ’n geheime agent.  

Kyk hier na die oulike temalied vir dié reeks:

Die episode waarin Gareth speel, word op Saterdag 23 Maart om 09:45 uitgesaai op Disney XD (DStv-kanaal 304).