20080128153954_8980
Het jy gehoor?

Ge-suit, nes Bond

Vir 007 is net die heel beste goed genoeg – soos ‘n ontwerper-pak van die bekende New Yorkse styl-man Tom Ford. Ook nie net één pak nie, maar twintig of meer!

 

Tom Ford en die blonde Bond, Daniel Craig, is pelle en vir die mees onlangse 007-fliek, Quantum of Solace, het Daniel net Tom Ford-pakke gedra. Hy spog ook in die rolprent met ‘n Aviator-sonbril van Tom Ford, wat nou sommer bekend staan as die 007 James Bond-sonbril.

 

Die ding is net, dié 20 of wat pakke is met Bond se manewales tydens verfilming so te sê verwoes – iets waaroor Daniel Craig glo baie sleg voel. Jy verstaan sy slegvoel effe beter as jy die vakmanskap van so ‘n pak van nader sien, soos ek gister gedoen het by die luukse Tom Ford-winkel in Madison-weg in New York.

 

Elke pak het ‘n binnevoering van sy, die moue word afgerond met 5 knope waarvan die laaste knoop ongeknoop bly (‘n unieke Tom Ford-kenteken), die knoopsgat op die lapel word perfek met die hand omboor, die bo-sak is in ‘n effense kurwe gesny (nog ‘n merk van Tom Ford), een van die binnesakke is spesiaal ontwerp vir ‘n BlackBerry en is só geposisioneer dat dit knus teen die lyf pas om nie die fatsoen van die pak te bederf nie. Die binnekant van een van die buitesakke is verdeel om ruimte te maak vir kleingeld en die kraag van die baadjie is versterk vir ‘n perfekte pas. En as die pak van sybokhaar is, kom dit van die top-kleedstoffirma Zegna, in Italië, wat toevallig van hul beste sybokhaar van ons eie Oos-Kaap kry!

 

O ja! Het ek genoem dat so ‘n pak bykans R50 000 kos! Maak maar self dié som! Bond het inderdaad in Quantum of Solace R1 miljoen se pakke in rook laat opgaan!

 

* In die regte lewe is dít die pakke wat akteurs Brad Pitt, Ralph Fiennes en Tom Hanks ook dra. Besoek Tom Ford se webtuiste hier – Michélle van Breda